Probleme met 2026-skoleplasings stuur af op onderwysramp – AfriForum
Die Gautengse Onderwysdepartement se onvermoë om die plasing van leerders wat op 14 Januarie 2026 vir gr. 1 en gr. 8 moet aanmeld, af te handel, stuur volgens die burgerregteorganisasie AfriForum, af op ’n ramp wat ernstige onsekerheid by ouers en leerders veroorsaak. AfriForum het gister (4 Desember) ’n konferensie oor die plasingskrisis in Johannesburg bygewoon om antwoorde oor leerdersplasings te kry nadat die provinsie se LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, geen terugvoer gegee het op die organisasie se regskrywe van 1 Desember nie.
AfriForum het in dié dringende skrywe aan Chiloane aangedring op terugvoer rakende die probleme met die departement se aanlyn plasingstelsel. Chiloane is versoek om teen 2 Desember terugvoer te gee.
Volgens Carien Bloem, hoof van Onderwysprojekte by AfriForum, is Chiloane se ignorering van ’n formele regsbrief waarin kritieke inligting oor die plasingstelsel se funksionering en kontraktuele verpligtinge versoek is, onaanvaarbaar. “Chiloane se pogings om boonop die blaam vir die plasingskrisis te plaas op ouers wat nie aanbiedinge aanvaar nie, is absurd en ’n powere poging om die verantwoordelikheid vir die departement se mislukking op ouers af te skuif,” meen Bloem.
“Vertragings met die plasing van die laaste 40 500 leerders is nie die toedoen van ouers nie. Ouers kan slegs plasings by een van hul voorkeur skole aanvaar.
Die stelsel wat herhaaldelik onklaar raak, ’n departement wat die situasie verswyg en meganismes wat eenvoudig nie werk nie, is die eintlike redes vir vanjaar se krisis,” verduidelik Bloem.
Sy hou vol dat beheer oor die administrasie van die plasings van leerders eerder by skole self gesetel moet wees aangesien die departement duidelik nie die vermoë het om dié taak doeltreffend uit te voer nie.
Chiloane het tydens die konferensie onderneem dat die plasingsproses teen 12 Desember afgehandel sal wees. AfriForum sal egter die situasie monitor en moedig ouers van leerders wat teen 12 Desember nog nie geplaas is nie, aan om dadelik met die organisasie in verbinding te tree.
AfriForum het in sy regsbrief vroeër vandeesweek onder meer ook die departement versoek om bewys te lewer dat die plasingstelsel se diensverskaffer volgens kontrak betaal is. Dit volg op gerugte dat die wanfunksionering van die plasingstelsel gekoppel is aan uitstaande betalings aan die diensverskaffer. Geen terugvoer is hieroor ontvang nie.
“Meer as 40 500 leerders is nog, net meer as ’n maand voordat die nuwe skooljaar moet begin, in die duister oor waar hulle volgende jaar hul laer- of hoërskoolloopbaan gaan afskop. Dit is nie ’n administratiewe flater nie – dit is ’n onderwysramp,” sluit Bloem af.
Plasingsprobleme: Kontak AfriForum
Ouers van leerders wat in 2026 met gr. 1 of gr. 8 begin en teen 12 Desember nog nie geplaas is nie, word versoek om met AfriForum in verbinding te tree. Stuur ’n e-pos met alle nodige besonderhede na onderwys@afriforum.co.za.
Let wel: Leerders wie se aanbiedinge teen 12 Desember nog nie aanvaar is nie, sal deur die stelsel geplaas word. ’n Appèltydperk open op 17 Desember en oorplasingsversoeke sal slegs na een van die leerder se vyf voorkeurskole oorweeg word. Appèlaansoeke kan telefonies (0800 000 789), per WhatsApp (060 891 0361) of per e-pos (admissions.hotline@gauteng.gov.za of gdeinfo@gauteng.gov.za) gerig word.



