Nuuskommentaar: Wanneer meer eintlik minder is…
Deur Dalena Beyers, raadgewer vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum
Terwyl die mensdom aan die een kant jubel oor die onuitputbare skeppingsdrang van die menslike gees (dink aan die onlangse suksesvolle ruimtevaart van Artemis II wat die eerste keer in 54 jaar weer reggekry het om mense naby aan die maan te bring), het ons in Suid-Afrika die afgelope naweek weereens die ander kant van die munt beleef. Die Departement van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë se voorgestelde beleid oor kunsmatige intelligensie (KI) is ontmasker as ’n slagoffer van presies dit wat hul beleid wil voorkom: die ondeurdagte gebruik van KI. Daar kan nie ’n beter voorbeeld van ironie wees nie.
Die minister het inderdaad die beleid nou teruggetrek ná die media hierdie flater uitgewys het, maar wat die saak nog interessanter maak, is dat die parlement reeds die beleid goedgekeur het – nou wel op 1 April 2026 vir wat dit werd is – maar dit laat die vraag: hoeveel ander wette het al ongelees deurgeglip?

Ongelukkig kan geen hoeveelheid KI die menslike natuur om kortpaaie te vat verdoesel nie. Soos een kommentator op die internet opmerk: “Kunsmatige intelligensie kan eenvoudig nie kers vashou by natuurlike onnoselheid nie.”
En hoewel hierdie mistasting van die departement ten spyte van die verleentheid tog Suid-Afrikaners laat glimlag het, is die bekendmaking van Tesourie se verslag oor vermorsing en verkwisting deur munisipaliteite in ’n ander liga – dit is eenvoudig tragies. Dat munisipaliteite binne een jaar dit regkry om R151 miljard van ons belastinggeld te vermors is nie net skandalig nie, dit is krimineel.
Om dit in perspektief te plaas: R151 miljard is ongeveer 151 000 splinternuwe Hilux-dubbelkajuitbakkies van R1 miljoen elk. Dit wil sê, as jy al hierdie bakkies op die pad sit sou dit die hele pad tussen Bloemfontein tot Pretoria en terug volstaan. Dit is báie geld.
Dink net hoeveel waterwerke, kragsentrales, transformators en ander basiese dienste dit nie sou kon verskaf nie – en eintlik moes verskaf nie. Dit is nou buiten onderhoud wat agterweë bly. Klaarblyklik het die Tshwane-metro net 2% begroot vir onderhoud, om van die verliese in water en krag nie eens te praat nie. Ten spyte van al hierdie verkwisting, word niemand vervolg nie, en word die skuldiges net weer aangestel asof niks verkeerd is nie.
Ook nie verbasend nie, want ons polisiediens sukkel ook maar om staande te bly. Met ’n (wan)prestasielys van polisiekommissarisse wat lyk soos die “wie’s wie” van geskorste bedryfshoofde sedert 2000 (beginnende met Jackie Selebi, toe Bheki Cele, Nhlanhla Mkhwanazi, Siya Phiyega, Khomotso Phalane, Khehla Sitole en nou, laastens, Fannie Masemola) is dit geen wonder dat die vuisvoos publiek maar skepties staan teenoor die kans op sukses van genl. Puleng Dimpane nie. Dit gaan beslis ’n opdraande stryd wees om weer enige vertroue in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) te vestig.
Dit blyk die tendens van ons dag te wees: hoe meer daar kommissies van ondersoek ingestel word, hoe minder is daar werklike gevolge. Of, hoe meer ons belasting betaal, hoe minder kan ons die behoorlike spandering daarvan in ons munisipaliteite naspeur. ’n Mens kan maar net hoop dat die pendulum weer sal terugswaai wanneer die wanbalans uitgewerk is. Hoop en vertroue moet egter met aksie ondersteun word, want soos die spreekwoord sê: Vra God vir die wind, maar span self die seile.



