|

AfriForum, Solidariteit en Helpende Hand kyk met Teenboelieveldtog verder as net boelie en slagoffer

Die lyn tussen boelie en slagoffer is nie altyd duidelik nie. Navorsing wat onderneem is onder 460 hoërskoolleerders in die Tshwane Metro-distrik het bevind dat 42,39% van respondente as beide boelies én slagoffers geklassifiseer kon word. Dit is juis dié groter kompleksiteit van boeliegedrag wat AfriForum se Teenboeliespan, Solidariteit en Solidariteit Helpende Hand op 13 Augustus tydens ’n gesamentlike besoek aan Laerskool Risiville en Laerskool Voorwaarts in Meyerton, Gauteng, met leerders bespreek het.

Navorsing bied ook ’n blik op wat agter dié oorvleueling kan lê. Navorsers het in ’n 2024-opvolgstudie bevind dat sommige leerders wat self geboelie word, hul frustrasie en woede op ander leerders rig. Sommige deelnemers het beskryf hoe hulle iemand wat swakker as hulle is boelie, terwyl ander aggressie as ’n manier gebruik het om hulself te beskerm of verlore aansien onder hul portuurgroep te probeer herwin. Dié bevindinge wys hoe viktimisering en boeliegedrag in sommige gevalle deel van dieselfde kringloop kan word.

Dié bevindings sluit aan by die benadering wat AfriForum, Solidariteit en Solidariteit Helpende tydens hul onlangse skoolbesoeke gevolg het: beskerm die slagoffer, begrens die gedrag, maar moenie die kind agter die gedrag afskryf nie.

Mari-Louise Erasmus, aanbieder van AfriForum se Teenboelieprogram, benadruk dat hulp aan die boelie nie beteken dat die gedrag aanvaar of verskoon word nie. “Ons moet twee dinge gelyktydig kan doen: Ons moet die kind wat seerkry beskerm én die kind wat ander seermaak help om te verstaan waarom sy gedrag verkeerd is en hoe om dit te verander. Dissipline moet duidelike grense stel, maar dit moet ook daarop gerig wees om al die betrokke partye te ondersteun,” verduidelik sy.

Nog ’n plaaslike studie, wat in 2024 in die internasionale vaktydskrif Scientific Reports gepubliseer is en 769 hoërskoolleerders in Noordwes betrek het, het bevind dat negatiewe kinderervarings en portuurinvloed belangrike voorspellers van boeliegedrag is. Die studie het verbande tussen boeliegedrag en verskeie negatiewe kinderervarings gevind, terwyl portuurinvloed as ’n belangrike voorspeller na vore gekom het. Om die dryfvere van boeliegedrag te verstaan, beteken egter nie dat die gedrag verskoon word nie. ’n Kind se omstandighede regverdig nie dat ander verneder, uitgesluit of seergemaak word nie. Die gedrag moet ferm hanteer word, terwyl die kind geleer word om verantwoordelikheid vir sy of haar optrede te aanvaar.

Volgens Erasmus is dit belangrik dat kinders verstaan dat daar ’n verskil is tussen om iemand verantwoordelik te hou en om iemand as ’n “slegte of stout kind” te etiketteer. “Ons kan vir ’n kind sê: ‘Wat jy gedoen het, is nie aanvaarbaar nie,’ sonder om te sê: ‘Jy is ’n stoute of lelike kind.’ Kinders moet leer dat verkeerde gedrag hanteer kan word sonder dat hulle as mens afgeskryf word.”

Die boodskap aan leerders en onderwysers is eenvoudig: Boeliegedrag moet gestop word, maar die kind agter die gedrag moenie afgeskryf word nie. Die Teenboelieveldtog beklemtoon daarom die belangrikheid van waardes soos verantwoordelikheid, empatie, respek en selfbeheersing. Wanneer leerders empatie toon, skole duidelike grense stel én ondersteuning bied, kry die kind wat ander seermaak die geleentheid om verantwoordelikheid te aanvaar, uit sy of haar optrede te leer en nuwe, positiewe maniere te ontwikkel om met ander om te gaan.

AfriForum se Teenboelieveldtog rus skole, ouers en leerders toe met praktiese kennis om boelie- en kuberboeliegedrag te herken, vroeg te identifiseer en ’n kultuur van wedersydse respek te vestig. Die program fokus op die rol van die hele skoolgemeenskap om kinders te beskerm, verantwoordelikheid te bevorder en positiewe gedrag te versterk.

Vir meer inligting oor AfriForum se Teenboelieveldtog en aanbiedinge by skole, stuur gerus ’n e-pos aan onderwys@afriforum.co.za.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

Veiligheid