|

Vrystaatse debatspanne praat Bloemfontein vuurwarm in streeksuitdun van AfriForum se Dink of Sink-kompetisie

Twee-en-dertig debatspanne van nege skole het Donderdag (20 Augustus 2026) by die Christelike & Nasionale (C&N) Sekondêre Meisieskool Oranje in Bloemfontein vuurwarm debatte gevoer in die Vrystaatse streeksuitdun van AfriForum se Dink of Sink-onvoorbereidedebatskompetisie. Dit was ’n besondere byeenkoms wat Oranje se 20ste jaar van betrokkenheid by dié kompetisie en AfriForum se 10de as nasionale hoofborg gevier het. Die deelnemers het andermaal bewys hoe flink hulle op hul voete kan dink.

Junior en senior spanne van (in alfabetiese volgorde) Bethlehem Voortrekker Hoërskool,  C&N Sekondêre Meisieskool Oranje, Grey Kollege Sekondêr, Hoërskool Fichardtpark, Hoërskool Jim Fouché, Hoërskool Reitz, Hoërskool Sentraal, Hoërskool Trio, en Hoërskool Witteberg het aan die kompetisie deelgeneem.

Die tradisie dat spitsvondige spanname gebruik word, is voortgesit met oorspronklike pogings soos Brulpunt (Fichardtpark), Woordwapens (Jim Fouché), Titanic (Reitz) en Slimspraak (Trio).

Aanvanklik het 16 junior spanne en 16 senior spanne kragte gemeet, waarna die twee junior en twee senior spanne wat as semifinaliste deurgedring het, onderskeidelik by ’n galageleentheid teen mekaar debatteer het om die Vrystaatse wenspanne te bepaal.

Na ’n spannende stryd wat byna gelykop geëindig het, het Witteberg se Die Onweerlegbares as wenners in die junior kategorie uit die stryd getree. Hul opponente in die finale debat was Die Raakpraters van Oranje.

Junior wenspan: Die Onweerlegbares van Hoërskool Witteberg. V.l.n.r.: Inge Meintjies, Lize Joubert en Hellene Meintjies.
Senior wenspan: Argumentum van Hoërskool Witteberg. V.l.n.r.: AJ Erasmus, Limay Kriel en Gerhard Nel.

Die finale senior debat was eweneens ’n titaniese stryd. Daar het Argumentum, ook van Witteberg, Oor en Uit van Jim Fouché net-net die loef afgesteek. Vanjaar het Noordwes-Universiteit (NWU) ook ’n beurs ter waarde van R20 000 aan elke lid van die wenspan toegeken.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is dit inspirerend om die jeug se entoesiasme en kameraderie by dié kompetisie te beleef. “AfriForum is trots om by hierdie kompetisie betrokke te wees. Ons waardeer dat C&N Sekondêre Meisieskool Oranje deel van die nasionale Dink of Sink-familie is en met puik reëlings vir die sukses van hierdie uitdun gesorg het. AfriForum is ook innig dankbaar vir al die skole, hul onderwysers, leerders en ouers se opofferings om die spanne se deelname moontlik te maak. Dit is bemoedigend om te sien dat tersiêre instellings soos NWU en Akademia as borge betrokke raak en erkenning aan die deelnemers se talente gee,” noem sy.

Die laaste streeksuitdun van 2026 vind op 26 Augustus 2026 by Hoërskool Ben Vorster in Tzaneen plaas. Die nasionale wenspanne sal op 19 September 2026 in Centurion gekroon word.

Volg gerus die verloop van die kompetisie op www.dinkofsink.co.za en AfriForumTV.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners