|

AfriForum lê klagte teen nog ’n skietlustige politikus

Klankgreep: Jacques Broodryk (Afrikaans)
Klankgreep: Jacques Broodryk (Engels)

AfriForum het klagte rakende die oortreding van die Wet op die Beheer van Vuurwapens by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ingedien teen ’n oudburgemeester van Johannesburg, Thapelo Amad. Amad is tans lid van die burgemeesterskomitee vir Gemeenskapsontwikkeling in Johannesburg.

’n Storm het vroeër vandeesmaand rondom Amad losgebars nadat ’n video op sosiale media versprei is van ’n man wat verskeie skote in die lug afvuur tydens ’n begrafnis. Die video is na bewering in Augustus verlede jaar by ’n begrafnis in Soweto geneem. Die skut op die video blyk moontlik Amad te wees.

Volgens Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, volg AfriForum se klag in reaksie op die beweerde versuim van wetstoepassingsagentskappe om die ernstige bewerings rakende die afvuur van ’n vuurwapen in ’n beboude gebied te ondersoek en teen die verdagte op te tree.

AfriForum het die SAPD nou versoek om ingevolge die Wet op die Beheer van Vuurwapens vyf klagte teen Amad te open en te ondersoek. Die voorgestelde klagte sluit in:

  • die onwettige besit van ’n vuurwapen;
  • die onwettige besit van ammunisie;
  • die afvuur van ’n vuurwapen in ’n beboude gebied sonder goeie rede;
  • die versuim om in die hantering van ’n vuurwapen redelike voorsorgmaatreëls te tref om persone of eiendom te beskerm; en
  • die afvuur of hantering van ’n vuurwapen met roekelose minagting vir die veiligheid of eiendom van enige persoon.

AfriForum beklemtoon dat politici nie bo die wet verhewe is nie, en dat versuim om beslissend op te tree in gevalle soos dié die oppergesag van die reg en openbare vertroue in die regstelsel ondermyn.

“Dit is teleurstellend dat sommige politici en individue met politieke bande steeds dink dit is aanvaarbaar om burgerlikes se lewe in gevaar te stel met die sogenaamde doel om te vermaak. Ons het dit gesien in die geval van die EFF-leier Julius Malema, en die wet moet konsekwent toegepas word – sonder vrees, begunstiging of politieke vooroordeel,” verduidelik Broodryk.

Hy hou voorts vol dat die voortgesette versuim om teen sulke gedrag op te tree, bydra tot ’n gevaarlike kultuur van strafloosheid.

“Wanneer politieke leiers roekeloos optree en geen gevolge vir hul optrede dra nie, dra dit ’n duidelike boodskap dat wetteloosheid geduld word. Dit is ’n boodskap wat Suid-Afrika eenvoudig nie kan bekostig nie. Roekelose vuurwapengebruik is nie ’n nietige saak nie – dit is potensieel dodelik en diegene wat hulself daaraan skuldig maak, moet aanspreeklik gehou word,” sluit Broodryk af.

AfriForum sal intussen verwikkelinge in dié saak moniteer en indien nodig verdere stappe doen om verantwoordbaarheid te verseker en toe te sien dat die beginsel van gelykheid voor die reg, gehandhaaf word.

Soortgelyke plasings

Veiligheid