| | |

AfriForum se teenboelieveldtogspan bemagtig leerders by Laerskool Verkenner

AfriForum se teenboeliespan het in April byna 600 leerders aan die Laerskool Verkenner in Gqeberha (Port Elizabeth) opgelei in praktiese vaardighede om boeliegedrag doeltreffend te identifiseer en te takel. Hierdie sessie was daarop gemik om die leerders bewus te maak van die erns van afknouery en om hulle te bemagtig om die gevolge van boeliegedrag te verstaan en met selfvertroue en respek daarteen op te tree.

AfriForum het ’n boodskap van selfbeskerming en geloof in die konteks van God se volle wapenrusting gedeel, wat diep inslag by die leerders gevind het. Die leerders het verder besef dat boeliegedrag nie net fisieke aggressie behels nie, maar ook manipulasie en sosiale isolasie, wat dikwels deur boelies as taktiek gebruik word.

Boeliegedrag is ’n groot uitdaging in Suid-Afrikaanse skole. Navorsing van die Departement van Basiese Onderwys en die Verenigde Nasies se Kinderfonds (UNICEF) in 2023 dui daarop dat sowat 3,2 miljoen leerders in Suid-Afrika elke jaar boeliegedrag ervaar, wat twee keer die wêreldgemiddelde is. Dit beklemtoon die omvang en die normalisering van die probleem in ons skole.

“Omdat boeliegedrag so wydverspreid is en ’n diepgaande invloed op leerders se welstand en ontwikkeling het, kan dit nie ligweg benader word nie. Dit is belangrik dat leerders die erns van boeliegedrag besef en die impak wat dit op iemand se lewe kan hê. Kinders moet weet dat hul woorde en dade iemand wat reeds kwesbaar is, verder kan seermaak,” sê Mari-Louise Erasmus, AfriForum se koördineerder vir Onderwys in die noordstreek en aanbieder van die teenboelieveldtog-praatjies.

“Die uitdaging is om nie net boeliegedrag te stop nie, maar om ’n kultuur van respek en omgee binne skole te bevorder. Slagoffers moet die nodige gereedskap kry om hulself te beskerm, terwyl boelies geleer moet word om hul gedrag te verander en ’n gesonder samelewing te bou.”

Laai AfriForum se gratis teenboeliegids hier af. Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog, besoek www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners