| | |

Drie Despatch-skole baat uit AfriForum se teenboelie-praatjie

AfriForum se teenboeliespan het in April leerders aan drie skole in Despatch met praktiese vaardighede toegerus om boeliegedrag hok te slaan. Die aanbieding dien as bewusmaking van afknouery en die bemagtiging van leerders om boeliegedrag te herken, die gevolge daarvan te verstaan en met selfvertroue en respek daarteen op te tree. Die skole wat uit hierdie praatjie gebaat het, is Laerskool Susanna Fourie, Laerskool Frans Conradie en Laerskool Sonop.

AfriForum het ’n boodskap van selfbeskerming en geloof in die konteks van God se volle wapenrusting gedeel, wat diep inslag by die leerders gevind het. Die leerders het verder geleer dat boeliegedrag nie net fisieke aggressie behels nie, maar ook manipulasie en sosiale isolasie, wat dikwels deur boelies as taktiek gebruik word.

Boeliegedrag bly ’n groot uitdaging in Suid-Afrikaanse skole. Navorsing van die Departement van Basiese Onderwys en die Verenigde Nasies se Kinderfonds (UNICEF) in 2023 dui daarop dat sowat 3,2 miljoen leerders in Suid-Afrika jaarliks boeliegedrag ervaar – dit is ongeveer dubbeld die wêreldgemiddelde. Hierdie navorsing wys hoe wydverspreid en genormaliseer hierdie probleem werklik in Suid-Afrikaanse skole is.

“Omdat boeliegedrag so algemeen voorkom en so ’n groot invloed op leerders se welstand en ontwikkeling het, is dit nie iets wat ligtelik opgeneem kan word nie. Kinders moet die erns van boeliegedrag besef en weet dat hul woorde en dade iemand wat reeds swaarkry, oor die afgrond kan stoot,” sê Mari-Louise Erasmus, AfriForum se koördineerder vir Onderwys in die noordstreek en aanbieder van die teenboelieveldtog-praatjies.

“Daarom is dit belangrik dat skole boeliegedrag vinnig takel en ’n kultuur van respek en omgee bevorder. Slagoffers moet nie net leer hoe om hulself te beskerm nie, boelies moet ook leer hoe om hul optrede teenoor hul maats te verander.”

Laai AfriForum se gratis teenboeliegids hier af. Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog, besoek www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners