| | |

Johannesburg-metro ondermyn openbare deelname aan begrotingsproses

Klankgreep: Marais de Vaal (Afrikaans)
Klankgreep: Marais de Vaal (Engels)

AfriForum sê die Johannesburg Metropolitaanse Munisipaliteit hinder betekenisvolle openbare deelname aan die begrotingsproses deur hul weiering om die basis vir die voorgestelde 65,6%-verhoging van die wateraanvraagbestuursheffing bekend te maak. Die burgerregteorganisasie het sy regspan opdrag gegee om ’n aanmaning vir die metro te stuur in verband hiermee.

AfriForum het vroeër die metro versoek om inligting te verskaf om die voorgestelde verhoging in die wateraanvraagbestuursheffing vir huishoudelike gebruikers van R65.08 tot R107.74 per maand te regverdig. Die metro se eie burgemeesterskomitee-verslag van 27 Maart 2026, wat die munisipale tariewe vir 2026/27 voorgestel het, bied geen betekenisvolle verduideliking of ondersteunende koste-analise vir die aansienlike verhoging nie.

In plaas daarvan om ’n verduideliking te verskaf, het die metro egter daarop aangedring dat AfriForum ’n formele aansoek om inligting indien ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA).

AfriForum beskryf hierdie reaksie as niks meer as ’n vertragingstaktiek wat beoog om betekenisvolle en deursigtige openbare deelname aan die metro se begrotingsproses te ondermyn nie.

“Die metro sê effektief vir inwoners: ‘Vertrou ons. Betaal meer. Vra later vrae.’ Dit is heeltemal onaanvaarbaar,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake. “Die inligting onderliggend aan voorgestelde tariewe moet deel vorm van ’n oop en deursigtige begrotingsproses. Inwoners kan nie betekenisvol kommentaar lewer op voorgestelde tariewe as die metro weier om die einste inligting bekend te maak wat nodig is om daardie tariewe te verstaan ​​en te evalueer nie.”

AfriForum meen dat om inwoners te dwing om die lang PAIA-proses te volg om die nodige inligting te bekom, die doel van openbare deelname verydel. Die tariewe sal reeds op 1 Julie 2026 ingestel word wanneer die nuwe munisipale finansiële jaar begin, die PAIA-proses sal nie teen dan afgehandel wees nie.

“As die metro ’n behoorlike koste-analise gedoen het en ’n rasionele regverdiging vir hierdie heffingverhoging gehad het, moes hulle daardie inligting onmiddellik kon verskaf het,” sê De Vaal. “In plaas daarvan het die metro nie eens probeer om die verhoging te regverdig nie. Dit het bloot probeer om die inligting agter ’n PAIA-proses te begrawe wat na alle waarskynlikheid langer sal duur as die aanvaarding van die begroting en die implementering van die nuwe tariewe op 1 Julie 2026. Dit is ’n blatante minagting vir deursigtige en verantwoordbare regering.”

AfriForum waarsku dat, gegewe die metro se goed gedokumenteerde infrastruktuurmislukkings en massiewe waterverliese, dit blyk dat inwoners weereens gedwing word om vir die metro se eie mislukkings te betaal.

“Inwoners het dus die volste reg om die voorgestelde tariefverhogings te ondersoek,” sluit De Vaal af.

Openbare kommentaar oor die voorgestelde tariewe het op 18 Mei gesluit. AfriForum se regspan het op 22 Mei ’n formele aanmaningsbrief aan die metro uitgereik. Indien die munisipaliteit versuim om die versoekte inligting teen 29 Mei te verskaf, sal AfriForum geen ander keuse sal hê as om regstappe te doen nie.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf