AfriForum se Oos-Kaap-strukture en veiligheidsrolspelers hou massapatrollie




Die AfriForum-veiligheidstrukture in die Oos-Kaap het op Vrydag 9 Oktober, ’n gesamentlike massapatrollie in Kariega (voorheen Uitenhagen), Gqeberha (voorheen Port Elizabeth) en Jeffreysbaai uitgevoer om sigbaarheid te verhoog en sodoende veiligheid te verbeter. Altesaam het 124 van AfriForum se buurt- en plaaswaglede in die areas aan hierdie operasie deelgeneem saam met 114 lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en ander private veiligheidsdienste. Tydens dié massapatrollie is ’n totale afstand van 2 116 km in 150 voertuie afgelê.
Die AfriForum-strukture wat deelgeneem het sluit in Mosel-buurtwag en Winterberg-plaaswag in Kariega, die Walkerdrive-, Broadwood- en Springfield-buurtwagte in Gqeberha en die AfriForum-buurtwag in Jeffreysbaai.
Die Walkerdrive-buurtwag het die SAPD gehelp gedurende ’n padblokkade waartydens 41 voertuie afgetrek is, waarvan een valse nommerplate gehad het. Hierdie buurtwag het ook die geleentheid gehad om drie realistiese misdaadsimulasies, oftewel gebeurlikheidsplanne, in samewerking met die SAPD uit te voer. Dié simulasies het onder meer die opsporing en arrestasie van ’n huisbraakverdagte, die opsporing van ’n ontvoerde persoon en die agtervolging van ’n verdagte voertuig met onwettige vuurwapens, behels.
Hierdie praktiese oefeninge het ten doel gehad om buurtwaglede se waarnemings-, kommunikasie-, reaksievermoë en samewerking met die SAPD onder gesimuleerde noodomstandighede te toets en te verbeter. Dit het ook die belangrikheid van duidelike kommunikasie, behoorlike koördinering en die nakoming van veiligheidsprosedures tydens ernstige misdaadvoorvalle beklemtoon.
Die massapatrollie het verder ten doel gehad om sigbare veiligheidspatrollies in woonbuurte te versterk, misdadige bedrywighede te ontmoedig en buurtwaglede se gereedheid vir werklike noodsituasies te bevorder.
“Die veiligheid van ons gemeenskappe kan nie aan net een instansie oorgelaat word nie. Hierdie massapatrollie wys wat moontlik is wanneer gemeenskappe verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid neem en saam met die SAPD en private veiligheidsrolspelers optree. Die praktiese simulasies is veral waardevol omdat dit ons lede die geleentheid bied om onder realistiese omstandighede te oefen en beter voorbereid te wees wanneer werklike misdaadvoorvalle plaasvind,” sê Louis van der Vyver, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap.
Volgens AfriForum is goeie voorbereiding en samewerking tussen veiligheidsrolspelers van kardinale belang om misdaad doeltreffend te bekamp. Buurtwagte vervul ’n belangrike ondersteunende rol deur verdagte aktiwiteite te identifiseer, inligting deur te gee en die SAPD binne die toepaslike wetlike raamwerk by te staan.
AfriForum bedank elke buurtwaglid, SAPD-lid en private veiligheidsrolspeler wat aan die operasie deelgeneem het. Die organisasie beklemtoon dat die bereidwilligheid van gemeenskapslede om hul tyd en hulpbronne aan die beskerming van hul woonbuurte af te staan, ’n onmisbare bydrae tot gemeenskapsveiligheid lewer.
“Ons doel is nie bloot om op misdaad te reageer nie, maar om deur sigbare patrollering, deeglike voorbereiding en goeie samewerking misdaad te help voorkom. Hoe beter ons as veiligheidsrolspelers saam kan funksioneer, hoe beter kan ons ons gemeenskappe beskerm,” sluit Van der Vyver af.
Sluit vandag nog by jou naaste AfriForum-buurtwag aan. Stuur ’n e-pos na louis.vandervyver@afriforum.co.za of bel hom by 066 486 7611.



