| | |

Klerksdorp-buurtspan kikker dorp stukkie vir stukkie op

AfriForum se Klerksdorp-buurtspan is dalk nog in sy kinderskoene, maar het reeds daarin geslaag om sedert Mei vanjaar ’n reusebydrae in dié gemeenskap te maak.

Dié span bestaan uit Reinhardt Bögershausen, Samuel Temboer, Johan Taljaard, George Thamsanqa en Michael Cloete – ’n klein groep toegewyde werkers wat hard werk om ’n verskil te maak. Saam pak hulle bebosde middelmanne, parke en selfs slaggate. Dit blyk dat hierdie manne se hande vir niks verkeerd staan nie.

Volgens Thamsanqa is dit vir hom ’n groot eer om op hierdie wyse deel van AfriForum te kan wees. Thamsanqa het aanvanklik as tuinier in Potchefstroom gewerk voordat hy – danksy die ondervoorsitter van AfriForum se Klerksdorp-tak, Romke de Jongh – by AfriForum se buurtspan betrokke geraak het.

Die opknapping van Matlosana Park, waar die Matlosana Bird Parkrun voorheen aangebied is, is tans een van die buurtspan se grootste projekte. Dié projek is daarop gemik om ’n veilige en toeganklike gemeenskapspark vir die inwoners van Klerksdorp te vestig. Die buurtspan het reeds die bome en bosse naby die rivier gesnoei om misdadige aktiwiteite te bekamp. Dit is ook gedoen om die park in ’n oop en netjiese terrein te omskep.

Verder het die buurtspan ook die verkeerseilande op Chris Hani-weg skoongemaak waar vullis opgehoop het. In Buffelsdoornweg het die buurtspan ook verskeie bome verwyder wat afgesny en op ’n eiland gelos is en die ideale wegkruipplek geskep het vir misdadigers. Die buurtspan beplan intussen om nuwe plante op dié verkeerseilande te plant om die algehele voorkoms van Klerksdorp te verbeter.

Volgens Jerome Chetty, wat die buurtspan oorsien, is die terugvoer van inwoners oor die werk wat die buurtspan verrig, baie positief. “Daar is gereeld mense wat langs die buurtspan stilhou waar hulle besig is om te werk en dan dankie sê vir die werk wat die span doen. Uiteindelik help die buurtspan se bedrywighede nie net om Klerksdorp weer in ’n pragdorp te omskep nie, maar ’n skoon omgewing help ook om misdadige aktiwiteite te beperk.”

Die buurtspan sal in 2027 voortbou op die stewige fondasie wat hulle hierdie jaar gelê het.

Wil jy hê die Klerksdorp-buurtspan moet in jou straat ’n draai kom maak? Bespreek ’n buurtspan hier.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf