|

AfriForum se Edenvale-tak sit opknapping van Eastleigh voort

AfriForum se Edenvale-tak het weer moue opgerol om die verkeerseiland op die hoek van Terrace- en Andries Pretoriusweg in Eastleigh, ook bekend as Linda’s Corner Island, skoon te maak. Die projek vorm deel van die tak se volgehoue strewe na ’n skoner en veiliger Edenvale.

Dié projek, wat reeds meer as twee jaar gelede afgeskop het, toe toegewyde AfriForum-vrywilligers die terrein skoongemaak het, duur steeds maand na maand voort. Sedertdien sorg die tak dat die verkeerseiland netjies en rommelvry bly, terwyl die plantegroei in toom gehou word.

Volgens Peter Kaminski, hoof van Omgewingsake by AfriForum se Edenvale-tak, is die transformasie van hierdie verkeerseiland ’n sigbare bewys van wat gemeenskapslede kan bereik wanneer hulle saamwerk. “Hoewel die instandhouding van openbare ruimtes die verantwoordelikheid van plaaslike owerhede is, hoef gemeenskappe nie toe te kyk hoe hul woonbuurte agteruitgaan nie. Deur verantwoordelikheid vir ons omgewing te aanvaar, kán ons ruimtes skep waarop almal trots kan wees,” verduidelik hy.

Kaminski bedank elke vrywilliger wat die afgelope twee jaar tot die volgehoue instandhouding van hierdie verkeerseiland op hierdie besige toegangsroete tot die buurt bygedra het. “Hul toewyding bewys dat gewone burgers deur volgehoue gemeenskapsoptrede ’n buitengewone verskil kan maak,” sluit Kaminski af.

Raak vandag nog betrokke by AfriForum se Edenvale-tak

Inwoners, sakeondernemings en gemeenskapsorganisasies word aangemoedig om vandag nog betrokke te raak by AfriForum se Edenvale-tak. Bou sodoende saam aan ’n skoner, veiliger en meer lewenskragtige Edenvale. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf