Jarelange druk werp vrugte af met aankondiging van 10-jaar bestuurderslisensies – AfriForum
Die kabinet se aankondiging dat bestuurderslisensies vir ligte voertuie 10 jaar geldig gemaak sal word, is ’n welkome verwikkeling nadat AfriForum en ander organisasies reeds meer as vyf jaar lank hierop aangedring het. AfriForum beklemtoon dat bewusmaking en openbare druk in hierdie geval ’n tasbare resultaat opgelewer het en dat dié besluit so gou moontlik geïmplementeer moet word.
Terwyl daar oor die afgelope paar jaar gereeld groot agterstande op die uitreik van hernude bestuurderslisensies was, het AfriForum herhaaldelik met die departement van Vervoer in gesprek getree en aangedring dat die geldigheidstydperk verleng moet word om druk op die stelsel te verlig. Barbara Creecy, minister van Vervoer, het selfs in Maart vanjaar in ’n geskrewe antwoord aan AfriForum onderneem om die proses te voltooi om bestuurderslisensies langer te laat geld.
Volgens Louis Boshoff, AfriForum-woordvoerder, is dit belangrik om die proses om die geldigheidstydperk te verleng so gou moontlik af te handel voordat daar weer opeenhopings in die stelsel ontstaan.
“Die departement het steeds net een lisensiekaartdrukker in sy besit, wat dekades oud is en dikwels onklaar raak. Nuwe drukkers moet aangeskaf word en ander probleme in die stelsel moet steeds uitgestryk. Hierdie besluit behoort eintlik net die eerste stap te wees om te verseker dat effektiewe en betroubare prosesse in plek is vir die lisensiëring van motorbestuurders,” sê Boshoff.
AfriForum sal in gesprek bly met die departement van Vervoer om te verseker dat hierdie besluit deurgevoer word.



