AfriForum se Delportshoop-tak herstel plaaslike paaie ná vloedskade
AfriForum se Delportshoop-tak het onlangs broodnodige herstelwerk aan grondpaaie in Sering- en Britsstraat gedoen nadat swaar reën groot skade in die gebied veroorsaak het en inwoners se toegang tot die res van die dorp versper het.
Die toestand van die paaie het vinnig versleg nadat groot hoeveelhede water daardeur gevloei het. Inwoners het gesukkel om veilig toegang tot hul huise te verkry, terwyl voertuie die risiko geloop het om skade op te doen weens die gate wat gevorm het.
As deel van die herstelwerk het AfriForum sowat 13 ton klip en ses ton gruis gebruik om die beskadigde dele van die paaie te herstel en weer rybaar te maak. ’n Ses meter lange waterpyp is ook in Britsstraat geïnstalleer om dreinering te verbeter en toekomstige waterskade te help beperk.
“Die toestand van die paaie het tot so ’n mate versleg dat inwoners se veiligheid in gedrang was. Ons het besluit om nie net vir oplossings te wag nie, maar self ’n verskil te maak,” sê Ben Venter, ondervoorsitter van AfriForum se Delportshoop-tak.


“Hierdie projek wys wat moontlik is wanneer gemeenskappe saamstaan en verantwoordelikheid vir hul omgewing neem. Ons glo dat praktiese gemeenskapsbetrokkenheid ’n groot verskil kan maak waar daar werklike behoeftes bestaan,” sê Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.
AfriForum bedank alle betrokkenes, insluitend vrywilligers en inwoners wat gehelp het om die projek moontlik te maak en ’n bydrae gelewer het om die herstelwerk suksesvol af te handel.



