|

AfriForum-tak span kragte saam met SAPD vir skoolondersoekoperasie

Verskeie e-sigarette is op 11 Augustus tydens ’n skoolondersoekoperasie by twee skole in Germiston gekonfiskeer. AfriForum se Germiston-tak is deur  die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se Elsburg-polisiekantoor uitgenooi om aan dié operasie deel te neem. Die operasie was daarop gemik om skoolterreine en relevante areas vir die moontlike teenwoordigheid van dwelms, e-sigarette en ander verbode items te deursoek.

Die ondersoeke is by die Rondebult- en Graceland-skole uitgevoer. AfriForum se Germiston-tak, SAPS Elsburg, SAPS K9, die Rondebult-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), misdaadvoorkomingsbeamptes en D&K Investigations het aan die operasie deelgeneem. Hoewel verskeie e-sigarette gekonfiskeer is, is geen dwelms tydens die operasie gevind nie.

Hoewel slegs ’n klein aantal e-sigarette tydens die operasie gekonfiskeer is, beteken dit nie dat die probleem gering is nie. ’n Studie wat in 2026 in die South African Medical Journal gepubliseer is en waaraan 25 149 leerders van 52 hoërskole in agt provinsies deelgeneem het, het bevind dat bykans een uit elke vyf leerders (19,4%) in die voorafgaande 30 dae minstens een tabak- of nikotienproduk of dagga gebruik het. E-sigarette was die algemeenste produk, met 16,8% van leerders wat aangedui het dat hulle dit in die voorafgaande maand gebruik het. Verdere publikasies uit dieselfde navorsingsprojek het boonop bevind dat 47% van huidige e-sigaretgebruikers reeds binne die eerste uur nadat hulle wakker geword het ’n e-sigaret rook – ’n aanduiding van beduidende nikotienafhanklikheid.

“Hoewel e-sigarette dikwels as ’n minder skadelike alternatief beskou word, waarsku gesondheidskenners dat dit hoë vlakke nikotien kan bevat en jong gebruikers vinnig afhanklik kan maak. Dit beklemtoon die belangrike rol wat ouers speel om bewus te wees van die risiko’s en om te verseker dat hierdie produkte nie in kinders se hande beland nie,” sê Elzabé Pretorius, voorsitter van AfriForum se Germiston-tak.

“AfriForum se Germiston-tak waardeer die uitnodiging van Elsburg-polisie om saam met rolspelers in die gemeenskap aan hierdie belangrike veiligheidsinisiatief deel te neem. Die teenwoordigheid van e-sigarette en dwelms by skole bly ’n kommerwekkende probleem en dit is belangrik dat daar voortdurend opgetree word om te verseker dat skole ’n veilige omgewing vir leerders bly.” sê Pretorius.

AfriForum se Germiston-tak sal voortgaan om saam met die SAPD, veiligheidsmaatskappye, gemeenskapsforums en ander rolspelers te werk om veiligheid in die Germiston-gemeenskap te bevorder.

* Dekfoto ter illustrasie, bron: SAPD Facebook

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Veiligheid