AfriForum se Bethlehem-tak skenk ’n maand se kosvoorraad aan kinderhuis
Die AfriForum-tak in Bethlehem, in samewerking met verskeie plaaslike ondernemings, het onlangs verligting aan die Charlotte Theron-kinderhuis in dorp gebring deur middel van ’n kosinsameling. Sakke aartappels, verskeie pampoene, blikkies kos, mieliepap, ontbytpappe, pastas en vars vrugte is by die kinderhuis afgelaai. Hierdie kos is genoeg vir sowat drie tot vier weke.
Charlotte Theron, eggenoot van ds. Charles Petrus Theron, het die kinderhuis in 1903 gestig. Die kinderhuis het ontstaan as ’n heenkome vir kinders wat wees gelaat is gedurende die Anglo-Boereoorlog en het reeds in sy stigtingsjaar sy deure met 45 kinders geopen. Charlotte het destyds op voedselskenkings staatgemaak om die kinders te versorg – ’n werklikheid wat vandag steeds voortduur.
Tans kan die kinderhuis blyplek bied aan ongeveer 450 kinders, insluitend 100 kleuters en 30 babas. Die instelling maak steeds grootliks staat op donasies, wat dit uitdagend maak om in die huidige ekonomiese omstandighede volhoubaar te funksioneer.
AfriForum se Bethlehem-tak het daarom plaaslike ondernemings genader om betrokke te raak by ’n kosinsameling om die druk op die kinderhuis te help verlig. Die reaksie vanuit die gemeenskap was positief en die ondernemings het gretig ingestem om by te dra. Die gemeenskap kon van 10 tot 25 Maart kos by die Maluti Hooglandskool aflaai. Op 25 Maart is ’n groot vrag kos by die Charlotte Theron-kinderhuis afgelewer. Carine Wagenaar, ’n maatskaplike werker by die kinderhuis, het die skenking ontvang.
“Ons as gemeenskap moet saamstaan – dit is die enigste manier waarop ons werklike verbetering kan bewerkstellig,” sê Juandré Gelderblom, voorsitter van AfriForum se Bethlehem-tak.
AfriForum wil graag die volgende rolspelers bedank vir hul onbaatsugtige bydraes: die Bethlehem-noodhulpklub, die Bethlehem-rotariërklub, Soek-en-redding Suid-Afrika (SARZA) se Bethlehem-tak, Rudi Harbron van Spar en Python- en Silent Night- sekuriteitsmaatskappye.
“AfriForum doen ook ’n beroep op die breër gemeenskap om meer betrokke te raak en die Charlotte Theron-kinderhuis te ondersteun, sodat hierdie belangrike instelling kan voortgaan om ’n veilige hawe vir kwesbare kinders te bied,” sê Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.



