AfriForum se Bethal-tak woeker met waterlewering, slaggat-herstelwerk en instandhouding
Met Bethal se konstante watertekorte het die AfriForum-tak in Maart in samewerking met plaaslike boere meer as 240 000 liter water by noodwaterpunte, skole en tehuise afgelewer. AfriForum koördineer die aflewerings en help met moontlike uitdagings, waaronder die koppeling tussen die tenkwaens en die waterpunte. AfriForum is besig om noodwaterpunte te standaardiseer sodat waterlewering meer doeltreffend kan plaasvind. Daar is ook ’n lang pyp by van die punte afgegee waar die tenkwaens nie water kan aflaai nie omdat die perseel te dig toegebou is. Hierdie pype stel AfriForum in staat om water van die hoofstraat buite die verskeie tehuise en noodwaterpunte te pomp.
AfriForum het ook ’n skrywe aan Mpumalanga se departement van Water en Sanitasie gerig en versoek dat hulle verdere druk op die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit (GMM) en Rand Water uitoefen om waterlewering meer volhoubaar te maak. Terselfdertyd is AfriForum en die GMM besig om koppe te stamp omdat die organisasie verskeie aansoeke ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) ingedien het rakende die waterleweringsooreenkoms tussen Rand Water en GMM.
“GMM wil nie die eerbare weg stap en ons inlig oor wat die ware oorsaak van die watertekorte is nie. Ons het natuurlik – net soos inwoners – ’n sterk vermoede dat die tekorte aan wanbetaling toegeskryf kan word, maar ons kan nie die saak op bespiegelinge bou nie. Ons sal aanhou baklei vir die waarheid want inwoners verdien dit, tesame met volhoubare waterlewering,” sê Hennie Bekker, distrikskoördineerder vir AfriForum in Mpumalanga.
AfriForum het ook verskeie selfdoen-projekte in die dorp aangepak, waaronder by die ingang na die BCVO-skool langs die Krielpad, wat AfriForum al vir die afgelope 14 maande onderhou.
AfriForum het verder ook meer as 230 sakke teer gebruik om Tsibitso Sibanyonistraat, in samewerking met verskeie inwoners wat die teer geborg het, te herstel. ’n Opvolgprojek is reeds beplan om die straat verder te herstel. Klipfontein-slaghuis het AfriForum ook genader om ’n reuse-slaggat reg voor die slaghuis se hoofingang te herstel. Hierdie projek het 13 sakke teer geneem wat die slaghuis geborg het. AfriForum het die arbeid en masjinerie geborg om die projekte te voltooi.
“Ondernemings en inwoners kan gerus met ons skakel om hulle met slaggat-herstelwerk te help. Indien die inwoners die produk betaal, sal AfriForum die herstelwerk in Bethal kosteloos voltooi. Op hierdie manier subsidieer ons en inwoners die herstel van ons dorp,” sluit Bekker af.
Sluit aan en raak betrokke by die AfriForum se Bethal-tak. Besoek: www.wordlid.co.za.



