AfriForum protesteer voor Tshwane House oor gesloer met Lynnwoodweg-padwerke
AfriForum en AfriForum Jeug het vanoggend vroeg die ingang na Tshwane House, die munisipale hoofkantoor van die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit, omskep in ’n fop-konstruksieterrein, kompleet met veiligheidslint, steierwerk, raserige masjinerie en ’n span padwerkers. Dié aktivistiese aksie is aangepak om druk op die metro te plaas om antwoorde te gee oor vrae wat die jeugorganisasie reeds in September gerig het rakende die status, veiligheid, vertragings en besteding wat verband hou met die opgradering van Lynnwoodweg tussen Universiteits- en Atterburyweg. Die metro het nog nie op dié versoek gereageer nie.

Die sogenaamde Lyn 2B Lynnwoodweg-projek sou aanvanklik teen Oktober 2025 afgehandel gewees het, maar die sperdatum is intussen uitgestel na Maart 2027. Dit kom ondanks bewerings dat die projek reeds 90% voltooi is.
Hanno Koster, AfriForum Jeug-woordvoerder, het vandag weer die brief met die organisasie se eise aan die metro oorhandig. “Motoriste en voetgangers wat hierdie deel van Lynnwoodweg gebruik, moet daagliks worstel deur dié konstruksieterrein. En hoewel die projek reeds twee jaar gelede afgehandel sou wees, is dit skynbaar nog etlike maande voordat die belangrike en besige roete weer ten volle oopgestel sal word vir verkeer. Die metro skuld inwoners, voetgangers en motoriste antwoorde oor waarom hierdie projek so sloer,” verduidelik Koster.
Volgens Maree van den Berg, AfriForum se streekskoördineerder vir Pretoria, het die metro die grense van inwoners se geduld oorskry met dié vertragings. “Ons is lankal keelvol vir die geraas, verkeersopeenhopings en gevare wat met hierdie padkonstruksie gepaardgaan. Vandag se protesaksie het die frustrasies van inwoners as’t ware op die metro se voorstoep gaan plant om aan amptenare ’n voorsmaak van motoriste en voetgangers in Lynnwoodweg se dag tot dag ervaring te gee,” meen Van den Berg.
Laat jou stem hoor!
AfriForum en AfriForum Jeug sal die druk op die metro volhou. Voeg jou stem hier by die organisasie se petisie en dring aan op antwoorde rakende die spandering en gesloer met dié projek.



