AfriForum-buurtspan nou Krugersdorp-brandkrane se baas
Deur Megan Swart
AfriForum-buurtspanne het ontstaan uit ’n behoefte vir betroubare dienslewering wat vinnig en doeltreffend gelewer word. Die buurtspan in Krugersdorp het die afgelope paar maande bewys waarom hy dié behoefte so goed vervul.
Die span het ná talle klagtes uit die Krugersdorp-gemeenskap oor beskadigde en toegegroeide brandkrane ’n projek van stapel gestuur waarin brandkrane in en om die dorp skoongemaak, herstel en getoets sou word.

Die Krugersdorp-brandweer het omvattende opleiding aan die buurtspan verskaf oor hoe om brandkrane te toets, te merk en te herstel. Die buurtspan het toe te werk gegaan om brandkrane te identifiseer en voortgegaan om altesaam 24 brandkrane te merk, te toets en waar nodig, te herstel.
Die werk het egter nie daar gestop nie. AfriForum se Krugersdorp-tak het die gemeenskap se behoefte raakgesien om ’n veilige omgewing te hê en besluit om agt brandkraankaste te skenk. Hierdie omhulsels beveilig die brandkraanklep terwyl dit nie in gebruik is nie.
“Werkende brandkrane wat toeganklik is en behoorlik beveilig is, is ononderhandelbaar in ’n digbevolkte gemeenskap. Nes dié elemente belangrik is om vinnig brande onder beheer te bring, só ook is die teenwoordigheid van ’n buurtspan wat vinnig en doeltreffend uitdagings in die gemeenskap aanspreek,” sê Stephanus Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand en Vaaldriehoek.
Buurtspan = beter buurt
AfriForum se Krugersdorp-buurtspan rol ook gereeld sy moue op om hierdie gemeenskap se omgewing te verbeter. Dié span, tesame met AfriForum se Krugersdorp-buurtwag het in September hande gevat met gemeenskapslede, die Mogale City Plaaslike Munisipaliteit en Mapogo Sekuriteit om Upper Rangeview skoon te maak en nuwe bome te plant.
Die span het saamgewerk om groot hoeveelhede boumateriaal, rommel en oortollige plantegroei te verwyder. Die toegangsgebied is oopgemaak en die reservaat se heining is weer sigbaar.
Benewens die opruimingswerk het die deelnemers gehelp om altesaam 25 bome in die gebied te plant. Vyf van dié bome is deur die AfriForum Krugersdorp-tak geskenk, terwyl die Roodepoort Botaniese Tuin ook tot die boom skenking bygedra het.
“Die nuwe bome is ’n belegging in ’n groener Upper Rangeview en ’n tasbare simbool van wat bereik kan word wanneer ’n gemeenskap saam aan ’n beter omgewing bou,” sê Blignault.



