|

AfriForum pak verskeie gemeenskapskwessies in Oos-Rand

AfriForum se Germiston-tak het gedurende April gou werk daarvan gemaak om verskeie gemeenskapskwessies in die Oos-Rand die hoof te bied. Te danke aan verskeie rolspelers, inwoners en plaaslike owerhede se insette is ’n insakking van die grond in Denlee vinnig aangespreek en onwettige besetters van ’n terrein in Primrose verwyder.

Skaars twee weke gelede het ’n plaaslike inwoner van Oaklaan in Primrose hulp versoek rakende onwettige besetters in die area. Die terrein was in ’n swak toestand en met vullis bestrooi. Die teenwoordigheid van die besetters het toenemend die veiligheid van die gebied belemmer, wat AfriForum se Germiston-tak genoop het om die situasie aan die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit te rapporteer. Die volgende dag het verskeie rolspelers, insluitend die Ekurhuleni-metropolisie (EMPD), die departement van Binnelandse Sake en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) die terrein besoek. Die area is intussen skoongemaak en uitsettingsbevele is verkry.

“Hierdie situasie is ’n bewys dat goeie verhoudinge en samewerking met verskeie rolspelers, plaaslike owerhede en die gemeenskap ’n daadwerklike verskil kan maak,” sê Nadia Olckers, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

Enkele dae nadat die onwettige besetters aan owerhede oorhandig is, het die tak weer namens die gemeenskap ingetree toe ’n inwoner van Denlee ’n insakking van die grond opgemerk het. Daar is weer met die metro geskakel en ’n span is ontplooi om die situasie te ondersoek. Die metro het vasgestel dat dit nie ’n sinkgat is soos aanvanklik vermoed is nie, maar dat jare se bouwerk en reën ’n verswakking in die grond tot gevolg gehad het en dat daar ’n vertrek met mure onder die bouvlak versteek is. Daar word nog ondersoek hoe om hierdie insakking veilig te herstel om te verhoed dat die grond verder inval.

“AfriForum se Germiston-tak is daartoe verbind om die inwoners van die Oos-Rand met enige gemeenskapskwessies by te staan; daarom sal die tak voortgaan om die situasies te moniteer en die nodige hulp te bied om die kwessies die hoof te bied,” sê Olckers.

Raak vandag nog by jou naaste AfriForum-tak betrokke en maak ’n verskil in jou gemeenskap. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf