Oorwinning vir Tshwane-skole: Hof beveel heraansluiting van krag
AfriForum verwelkom die hofbevel wat gelas dat alle skole wie se elektrisiteitstoevoer weens wanbetaling van hulle eiendomsbelasting deur die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit afgesny is, se krag herstel moet word. Laerskool Wierdapark en AfriForum het die hof met ’n dringende aansoek genader om die herstel te eis, nadat dit rugbaar geword het dat verskeie skole die afgelope week so benadeel is en letterlik in die duister gelaat is. Die saak is vanoggend in die dringende hof in Pretoria aangehoor.
Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is die skole se kragrekeninge ten volle betaal, trouens sommige het dit selfs al vooruitbetaal. Die rekeninge vir dienste soos krag- en watertoevoer is die verantwoordelikheid van die skole se beheerliggame. Die eiendomsbelasting moet egter deur die owerhede betaal word, wat tans skynbaar nie in die Tshwane-metro gebeur nie. AfriForum het in 2009 ’n soortgelyke saak teen dié metro gewen en was daarom gereed om weer skole se toegang tot dienste waarvoor hulle betaal, te verdedig.
“Dit is onregverdig dat leerders en personeel se regte tot gehalte-onderrig, veiligheid en selfs die voorsiening in hul basiese behoeftes geskend word weens die owerhede se wanadministrasie. By die skole wat geraak is, kon onderrig nie soos normaalweg plaasvind nie. Stelsels wat veiligheid op die perseel moet beskerm, was buite werking. Voedingskemas wat warm etes aan die mees kwesbare kinders moet voorsien, kon nie voortgaan nie, terwyl voorrade in yskaste bederf het. Waar skole kragopwekkers het, kon net die mees noodsaaklike dienste gelewer word en dit teen ’n uiters hoë koste weens die huidige dieselprys. Selfs hierdie gebrekkige gebruik van elektrisiteit was dus nie volhoubaar nie,” verduidelik Bailey.
“AfriForum is dankbaar vir die spoedige verligting wat die hofbevel aan die benadeelde skole bied en vertrou dat die Metro in die toekoms met die betrokke owerhede oorleg sal pleeg, in plaas daarvan om skole aanspreeklik te probeer hou vir uitstaande skulde waarvoor hulle nie verantwoordelik is nie. Nie alleen straf dit onskuldiges nie, maar benadeel leerders se reg tot gehalte onderrig en veiligheid, wat totaal onaanvaarbaar is. Ons verwelkom ook die kostebevel teen die metro aangesien dit die onwettige aard van hul aksies bevestig,” sluit Bailey af.



