AfriForum se eie in ikoniese musiekspel te sien
Deur Megan Swart
Bedags intimideer hy ontstoke politici in die hof as AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, maar snags herskep hy homself om in die skoene van die ikoniese staatspresident Paul Kruger te pas.
AfriForum se eie Jacques Broodryk is tans in AfriForum Teater se herlewing van die musiekspel Ons vir jou te sien, waar hy die rol van hierdie belangrike leiersfiguur vertolk. Inhoud Huis Musiek se produksie van Deon Opperman en Sean Else se musiekspel speel af tydens die Anglo-Boereoorlog, oftewel die Tweede Vryheidsoorlog. Jacques verskyn saam met onder andere Bok van Blerk, Nadia Beukes, Rico Immelman en Anika de Beer op die verhoog.
Jacques is egter geen vreemdeling vir die kollig nie. Behalwe dat hy gereeld nasionaal en selfs internasionaal woordvoerderwerk vir AfriForum doen, het hy boonop jare gelede ’n rol in die gewilde sepie Binnelanders vertolk. Dit is wel die eerste keer wat hy die verhoog in ’n musiekspel aandurf.
“Akteurswerk is nie vir my nuut nie, maar ’n verhoogstuk soos hierdie is; dit is baie anders as om ’n akteur op televisie te wees. Omdat die ander akteurs [in die musiekspel] so talentvol is, probeer ek heeltyd bybly en hul verwagtinge haal. Elkeen van die akteurs is werklik net só goed,” sê hy.
Volgens Jacques moes hy diep delf en intensief navorsing doen om die rol van Paul Kruger geloofwaardig te kan vertolk.
“Ek moes vir myself indink hoe dit was om destyds in sy skoene te wees – nie net psigies nie, maar fisies ook. As ’n man in sy laat 70’s was die kanse goed dat sy rug al krom gestaan het, sy stem was waarskynlik nie meer so helder nie, maar hy het steeds daardie vuur in sy oë behou. Dít is wat ek in die stuk probeer oordra.
“Dit is vir my ’n groot voorreg om hierdie leiersfiguur te vertolk. Hy is ’n groot deel van die Afrikaner-geskiedenis en sy standbeeld laat mense steeds warm onder die kraag. Ek hoop dat ek hierdie rol kan volstaan.”
Kyk wat het Jacques nog te sê oor sy vertolking van Paul Kruger:



