Nuwe planne voorgestel vir myn op Krugerwildtuin se voorstoep, ou rolspelers duik weer op
AfriForum is in kennis gestel dat ’n nuwe mynbou-aansoek ingedien is vir ’n ondergrondse steenkoolmyn op sowat 5 500 ha wat aan die suide van die Krugerwildtuin grens. Die organisasie bestudeer tans die aansoek om die proses asook die moontlike omgewings-, sosiale en ekonomiese impak te evalueer.
Tenbosch Mining en Kimopax Consulting, die omgewingsmaatskappy wat by die vorige aansoek betrokke was, is ook by hierdie nuwe aansoek betrokke. Die vorige aansoek het ’n area van sowat 6 500 ha versoek, maar is in Desember 2025 herroep ná openbare druk. Die vorige aansoek het verskeie vrae laat ontstaan oor die openbare deelnameproses wat gevolg is asook klagtes oor onvoldoende kommunikasie. Voorts was daar ook kritiek oor die kwaliteit en die hantering van die omgewingsimpakstudie.
AfriForum doen ’n beroep op die betrokke owerhede om streng toesig toe te pas en volle deursigtigheid te verseker ten einde omgewingstandaarde te handhaaf wanneer enige aansoek oorweeg word wat so naby aan een van die land se belangrikste bewaringsgebiede is.
Volgens Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake, moet hierdie nuwe aansoek noukeurig deurgewerk word veral aangesien die ou rolspelers, Tenbosch Mining en Kimopax Consulting, betrokke is. “Die bedreiging vir die omgewing bly dieselfde. AfriForum sal verseker dat alle wetlike en openbare deelnameprosesse behoorlik gevolg word. Ons sal beslissend optree om die Krugerwildtuin, die omliggende gemeenskappe asook die plaaslike landbou en toerisme-ekonomie te beskerm teen enige ontwikkeling wat onomkeerbare skade kan veroorsaak.”
Die organisasie doen voorts ’n beroep op die publiek om as belanghebbende en geaffekteerde party by Kimopax Consulting te registreer indien hulle direk of indirek deur die voorgestelde mynbou-aansoek geraak sal word.



