Sokkerster Mogaila binnekort weer in hof ná voorgestelde pleitooreenkoms verwerp is
Privaatvervolgingseenheid behartig nog ’n padongeluksaak wat sloer
Die sokkerster Shaune Mogaila wat daarvan beskuldig word dat hy die botsing veroorsaak het wat die lewe van negejarige Gomolemo Mavimbela geëis het, sal binnekort in die Tembisa Landdroshof tereg staan nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) skynbaar sy voorgestelde pleit- en vonnisooreenkoms van die hand gewys het. AfriForum se privaatvervolgingseenheid het vertoë aan die staat gerig namens Gomolemo se ma, Keo, en Carol Khethiwa, die ma van Thando wat in dieselfde botsing ernstig beseer is. Mavimbela het gister (30 Junie) kortliks in die hof verskyn.
Mavimbela en Khethiwa het ná deeglike oorweging van Mogaila se voorlegging, die vonnis wat hy voorgestel het in ruil om skuld te beken, van die hand gewys. Hulle sê dit is uiters onvanpas gegewe die erns van die beweerde oortreding en die trauma wat dit vir al die betrokkenes veroorsaak het. Die hof het die saak tot 21 Julie uitgestel vir voorverhoorverrigtinge.

Intussen is die kollig weer op die polisie geplaas oor sy versuim om sake van strafbare manslag in verband met mense wat op paaie sterf, behoorlik te ondersoek. ’n Saak waarin nog ’n noodlottige padongeluk in Tembisa na bewering deur ’n dronkbestuurder veroorsaak is, sloer reeds sedert Januarie. AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig Thembisile Jama, die weduwee van Luthando Jama, wat op 23 Januarie 2026 gesterf het nadat hy deur ’n bakkie getref is. Die voertuig is deur Lebogang Nkuna bestuur, wat na bewering probeer het om van die toneel af te vlug.
Ten spyte hiervan het Nkuna nog nie in die hof verskyn nie. Jama is deur die ondersoekbeampte meegedeel dat die ondersoek vertraag word omdat die polisie steeds op die resultate van Nkuna se bloedalkoholvlak wag.
Op die dag van die ongeluk het Jama langs die pad naby ’n paneelklopper op die R562 gestaan. Hy het na die paneelklopper gegaan om ’n kwotasie vir herstelwerk aan sy voertuig te kry. Hy en die eienaar van die winkel het langs sy voertuig gestaan toe Nkuna, wat met ’n bakkie gery het, hulle getref het. Jama is op die toneel oorlede, terwyl die eienaar geringe beserings opgedoen het.
In ‘n brief aan die Tembisa Landdroshof voer advokaat Gerrie Nel, hoof van die eenheid, aan dat die saak in die hof aangehoor moet word. “Dit raak toenemend duidelik dat ondersoeke na sake van strafbare manslag dikwels nie die prioriteit geniet wat dit behoort te kry nie. Vertragings in die verkryging van resultate van bloedalkoholvlakke word selde aktief bestuur, met die gevolg dat sake onnodig lank duur en in sommige gevalle uiteindelik van die rol geskrap word.

“Ons voer aan dat hierdie saak een van strafbare manslag uitmaak en dat die resultate van die bloedalkoholvlak nie noodsaaklik is om so ’n saak te bewys nie. Daar is ooggetuies wat kan getuig oor die omstandighede van die botsing en die resultate van die bloedalkoholvlak sou hoogstens as ’n verswarende faktor tydens vonnisoplegging dien. Daar is dus geen rede dat hierdie saak onbepaald vertraag word in afwagting op die uitslag van daardie resultate nie,” sê Nel.



