|

Tinteltong Toekennings: Nominasies vir kreatiefste Afrikaanse ondernemings nóú oop

Liefhebbers van Afrikaans wéét – spitsvondige, pittige en raakvat sêgoed in dié taal rol al te lekker van die tong af. Dit is as’t ware tintelend. Om dié tintelende ervaring wat Afrikaans in Afrikaanse ondernemings bring, te vereer, het AfriForum Sakenetwerk meer as ’n dekade gelede al die jaarlikse Tinteltong Toekennings ingestel.

Dié kompetisie laat jaar na jaar die kalklig val op die room van kreatiewe Afrikaanse ondernemings en nominasies vir die 11de Tinteltong Toekennings het pas weer oopgemaak. Die tyd om jou gunstelingonderneming in die vier Tinteltong-kategorieë te nomineer, is daarom nóú! ’n Reusebonus wag boonop op ondernemings, want vier wenners sal in elkeen van Sakenetwerk se takke aangewys word!  

Waarom Tinteltong?

Die Tinteltong Toekennings is in 2016 ingestel om Internasionale Moedertaaldag te vier én erkenning te gee aan die bydraes van plaaslike ondernemings in hul onderskeie gemeenskappe. Die toekennings word weer vanjaar in samewerking met Sakenetwerk se plaaslike takke aangebied en bied ’n unieke geleentheid om plaaslike ondernemings op ’n plaaslike vlak te bevorder.

Die kategorieë

Nominasies kan vanjaar in twee onderafdelings van die produkte- en dienste-afdeling gemaak word. In die produkte-afdeling sal die produk met die mees kreatiewe slagspreuk en die produk met die mees kreatiewe naam elk met ’n toekenning vereer word, terwyl die onderneming wat die beste diens in Afrikaans lewer en dié met die mees uitstaande bydrae tot die Afrikaanse gemeenskap ook elk met ’n Tinteltong Toekenning wegstap.

Só werk dit

Vier toekennings per Sakenetwerk-tak is vanjaar op die spel en die wenners in elke kategorie sal bepaal word deur middel van ’n stemproses.

Nominasies vir hierdie opwindende kompetisie sluit op 31 Maart 2026. Hierna volg die stemfase, van 13 tot 26 April 2026, waartydens die publiek die geleentheid kry om vir hul gunstelingondernemings te stem. Wenners word in die week van 8 Mei 2026 aangekondig.

Besoek www.afriforumsakenetwerk.co.za om die naaste Sakenetwerk-tak op te spoor.

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners