|

AfriForum Jeug ruk Bloemfonteinse paaie reg

AfriForum se jeugvleuel van die Bloemfontein-tak het verlede week drie slaggate en twee groot slote wat in Charcot- en Von Ludwigstraat gevorm het, herstel. Dié span het boonop in samewerking met AfriForum se Hospitaalpark-buurtwag, plaaslike inwoners én die jeugspan van die Lede in Christus Kerk, openbare ruimtes opgeknap.

Meer as 20 vrywilligers het verskeie slaggate suksesvol herstel. Dit het 35 sakke teer geverg om hierdie herstelwerk te voltooi. Die harde werk het egter nie daar geëindig nie. Ná die herstelwerk aan die paaie, het die span sypaadjies aan die hoek van Hippocrateslaan en Pasteurrylaan én Beststraat en Pasteurrylaan skoongemaak en oorgeverf.

“Danksy die goedhartigheid van plaaslike ondernemings kon die span jeugdiges gereeld hul dors les met ’n skenking van drinkgoed. Die skenking van toerusting deur African Mining and Crushing (AMC) het ook toegesien dat al hierdie take suksesvol voltooi kon word,” sê Wikus van der Walt, beampte vir AfriForum Jeug se strukture.

“Dit is wonderlik dat AfriForum Jeug saam met die gemeenskap hierdie inisiatief kon aanpak. Selfdoen is altyd beter as niks doen nie, veral omdat die inwoners van Bloemfontein selde op die metro kan staatmaak om broodnodige dienste te lewer,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Rosestad.

Raak vandag nóg by AfriForum Jeug betrokke om ’n daadwerklike verskil te maak. Klik hier om saam met AfriForum ’n beter en netjieser toekoms te bou.

Soortgelyke plasings