AfriForum herstel twee reuseslaggate in Mayberry Park met 475 kg teer


AfriForum se Alberton-tak het Saterdag, 19 September 475 kg teer gebruik om twee reuseslaggate op die hoek van Horn- en Koorsboomstraat in Mayberry Park te herstel. Voertuie moes al vir ’n geruime tyd by hierdie kruising vir dié gevaarlike gate uitswaai.
Altesaam 19 sakke teer is gebruik om die slaggate behoorlik op te vul. Dertien van die sakke was nodig om die grootste slaggat te herstel, terwyl die kleiner slaggat met die oorblywende ses sakke herstel is.
Die projek is deel van die Alberton-tak se voortgesette fokus om sigbare diensleweringsprobleme in die gemeenskap op te los en inwoners se veiligheid te bevorder. Slaggate kan nie net skade aan voertuie veroorsaak nie, maar hou ook ’n veiligheidsrisiko vir motoriste en ander padgebruikers in.
“Dit behoort nie 475 kg teer te verg om net twee slaggate by een kruising herstel te kry nie. Hierdie slaggate het motoriste en ander padgebruikers in gevaar gestel. Ons span het ingegryp omdat inwoners veilige, begaanbare paaie verdien, maar die munisipaliteit moet sy verantwoordelikheid vir behoorlike padinstandhouding nakom,” sê Clifford Smith, voorsitter van AfriForum se Alberton-tak.
Hoewel AfriForum waar moontlik prakties ingryp, bly die instandhouding van openbare paaie die verantwoordelikheid van die munisipaliteit. Die tak sal voortgaan om gebrekkige infrastruktuur deur die voorgeskrewe munisipale kanale aan te meld en druk vir volhoubare herstelwerk uit te oefen.



