|

Wanneer kry ek my tienjaar-bestuurderslisensie?

Deur Louis Boshoff, AfriForum-woordvoerder

Die kabinet het tydens ’n vergadering op 29 Julie 2026 die voorstel dat bestuurderslisensies van klasse A, A1, B en EB se geldigheidstydperk van vyf na tien jaar verleng moet word, goedgekeur.[1]

Dit beteken dat ryers van motorfietse van enige kapasiteit, sowel as bestuurders van ligtemotorvoertuie – met of sonder sleepwaens – in die toekoms slegs een maal elke 10 jaar hul lisensies sal moet hernu. Die kabinet se verklaring stel egter dat die implementering van die besluit wetswysigings (“legislative amendments”) vereis en dat motorbestuurders vir eers moet voortgaan om hul lisensies te hernu.

So hoe lank sal dit neem voordat mense kan ophou om hul lisensies ná vyf jaar te hernu?

So hoe lank sal dit neem voordat mense kan ophou om hul lisensies ná vyf jaar te hernu? Voordat die vraag beantwoord kan word, moet ons eers kyk na die geskiedenis van hierdie besluit.

Oor die afgelope vyf jaar was daar deurlopend oproepe van belanghebbendes dat die geldigheidstydperk van bestuurderslisensies verleng moet word. Veral twee redes hiervoor is geopper:

  1. Dit sal strook met internasionale norme.
  2. Die Departement van Vervoer is nie in staat om hernude lisensies stiptelik elke vyf jaar aan alle motorbestuurders uit te reik nie.

In 2022 het die Padverkeersbestuurskorporasie onafhanklike navorsers opdrag gegee om die kwessie te ondersoek en daar is bevind dat beide gemelde argumente geldig is. Die destydse minister van Vervoer, Fikile Mbalula, het in reaksie hierop gesê dat sy departement besluit het om die geldigheidstydperk van bestuurderslisensies te verleng. Dit het egter nooit verder gevorder as net ’n mondelinge voorneme nie. In 2024 het Mbalula se opvolger, Sindisiwe Chikunga, die besluit teruggetrek. Kort daarna het die agterstand in die uitreiking van hernude lisensiekaarte egter etlike honderdduisende bereik en het openbare druk vir die verlenging van geldigheid daarvan weer opgebou.

Onder leiding van Barbara Creecy,  die huidige minister van Vervoer, is daar in die departement se 2025/2026-prestasieplan ’n doelwit ingesluit om die geldigheidstydperk van vyf na agt jaar te verleng, met kwartaallikse doelwitte wat afgehandel moes word om die hoofdoelwit te bereik.[2]

Daar is egter nooit aangekondig dat enige van dié stappe afgehandel is deur die loop van die 2025/2026-boekjaar nie. AfriForum het in Februarie 2026 ’n brief aan die minister gerig om daarop te wys dat haar departement nie op koers is om die gestelde doelwit te bereik nie.[3]

Hoewel die minister in reaksie hierop konstruktiewe gesprek met AfriForum gevoer het, was die proses teen Maart 2026 nog nie afgehandel nie en is die doelwit oorgedra na die 2026/2027-prestasieplan.[4]

Intussen het die bewoording van die hoofdoelwit, sowel as die kwartaallikse doelwitte verander. Daar was skielik geen sprake meer van ’n voorlegging van die besluit aan die parlement nie. Die voorlegging moes volgens die nuwe bewoording aan die kabinet voorgelê word. Dit terwyl nie enige van dié twee voorleggings ’n wetlike of grondwetlike vereiste is nie. Gemeet aan die 2026/2027-prestasieplan, is die kabinet se goedkeuring dus gouer verkry as beplan, maar as al die departement se vorige beloftes in ag geneem word, neem die proses in werklikheid heelwat langer as wat dit moet.

Die kabinet se goedkeuring

Terug by verlede week se kabinetsbesluit. Dit kan natuurlik verwelkom word dat die ministers uit die bloute op tien jaar besluit het, terwyl al die vorige kommunikasie gedui het op ’n verlenging na agt jaar.

Tog is die kabinet se verklaring nie heeltemal korrek om te sê dat “wetswysigings” benodig word nie. ’n Meer akkurate stelling sou wees om te sê dat regulatoriese wysigings benodig word.

Artikel 75 van die Nasionale Padverkeerswet 93 van 1996 verleen aan die minister die bevoegdheid om regulasies uit te vaardig wat die bereiking van die wet se doelwitte sal bemiddel. Die Pretoriase Hooggeregshof het in 2023 bevestig dat dit die regulering van die geldigheidstydperk van bestuurderslisensies insluit.

Klousule 6 van artikel 75 stel dit verder soos volg: “Voordat die Minister ’n regulasie uitvaardig, kan die minister, indien hy of sy dit dienstig ag (klem bygevoeg), ’n konsep van die voorgestelde regulasie in die Staatskoerant laat publiseer, tesame met ’n kennisgewing waarin alle belanghebbende persone uitgenooi word om enige besware of vertoë wat hulle wil opper of rig […] in te dien vir voorlegging aan die Minister.”

In die tussentyd geld regulasie 108(5)(a) van 2000 – wat bepaal dat lisensies elke vyf jaar hernu moet word – nog steeds. Die minister kan egter enige tyd ’n nuwe regulasie in die plek hiervan uitvaardig wat sal bepaal dat lisensies slegs elke tien jaar hernu moet word.

Soos bo gesien, hoef die minister nie eens vooraf ’n konsepregulasie te publiseer indien sy dit nie dienstig (“expedient”) ag nie. Wat nog te sê van al die voorleggings aan die kabinet en parlement.

AfriForum meen dat die publiek se mening rakende die geldigheidstydperk van bestuurderslisensies reeds oor die afgelope paar jaar bekend geword het en dat daar nie nou behoefte is aan verdere geleentheid vir kommentaar nie.

Slegs indien die minister bykomende wysigings wil maak, behoort daar geleentheid vir kommentaar gegun te word. Die gevolgtrekking is dat, indien die minister en haar departement nou doelgerig optree, daar geen rede is waarom dit lank hoef te neem vir lisensies om amptelik tien jaar geldig gemaak te word nie.

Laastens, die minister het vroeër ’n toegewing gemaak waarin daar besluit is dat bepaalde motorbestuurders wat nie betyds geldige lisensies kon verkry vanweë die departement se nalatigheid nie, nie beboet mag word nie.[5] Indien die departement nou sloer om lisensies tien jaar geldig te maak, is daar geen rede waarom ’n soortgelyke toegewing nie behoort te geld nie. Bestuurders wie se lisensies binne die volgende paar maande verval, behoort daarom die geleentheid gegun te word om nou ’n tienjaarlisensie te kry. Dit is tog nie hul skuld dat die departement al jare lank sloer om ’n eenvoudige besluit deur te voer nie. AfriForum sal aanhou om druk te plaas op die Departement van Vervoer, totdat die tienjaarlisensies ’n werklikheid word.


[1] Full Statement on the Cabinet meeting of 29 July 2026 | South African Government

[2] https://static.pmg.org.za/DoT_APP_2025_26__13062025Final.pdf

[3] https://www.artikels.afriforum.co.za/minister-moet-prestasieplan-volg-en-lisensiekaarte-agt-jaar-laat-geld-eis-afriforum/

[4] https://static.pmg.org.za/DoT_APP_2026_27_FINAL_23.03.2026.1_CLEAN_003e.pdf

[5] https://www.timeslive.co.za/news/south-africa/2025-07-11-home-affairs-to-help-print-driving-licences-to-clear-backlog/

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik