| |

AfriForum gereed om rasionaliteit van Eskom-tariefverhoging te ondersoek

Klankgreep: Deidré Steffens (Afrikaans)
Klankgreep: Deidré Steffens (Engels)

AfriForum is gereed om die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) se besluit om ’n bykomende tariefverhoging ten bedrae van meer as R54 miljard aan Eskom goed te keur, te fynkam om die rasionaliteit en substansie daarvan te bepaal. Indien NERSA nie die rede vir hul besluit tydig publiseer nie, sal AfriForum ’n formele versoek daarvoor indien.

Dit volg nadat NERSA gister (8 Februarie) aangekondig het dat hy oor die volgende twee boekjare  ’n verdere R54 miljard aan Eskom wil toestaan. Die volgende Eskom-tariefverhogings is aangekondig:

BoekjaarOorspronklike goedgekeurde tariefverhogingBykomende tariefverhogingBykomende las op verbruikers
2026/20275,36%8,76%+3,40%
2027/20286,19%8,83%+2,64%

NERSA voer in sy mediakommunikasie oor die verhoging aan dat die verhoging aan Eskom “billik” is, maar terselfdertyd die “tariefskok” op verbruikers “mitigeer”. AfriForum hou egter vol dat dit nie die geval is nie en benadruk dat verbruikers weereens die prys vir Eskom se jare lange strukturele en bestuursmislukkings moet betaal.

Morné Mostert, AfriForum se bestuurder vir Plaaslikeregeringsake, beklemtoon dat ’n blote aankondiging rakende die verhoging nie genoeg is nie. “Volledige bewyse rakende die besluit is nou noodsaaklik. Die energiereguleerder sal moet kan aantoon dat die besluit deeglik deurdink is en dat die metodologie korrek en konsekwent toegepas is.”

“Elektrisiteitstariewe raak almal in die land. Dit is dus nie aanvaarbaar dat miljarde rande eenvoudig na Eskom herlei word sonder dat NERSA volledig en oortuigend kan verduidelik hoekom dit noodsaaklik, regmatig en billik is nie,” verduidelik Deidré Steffens, raadgewer vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum.

Sodra die volledige besonderhede van die beslissing beskikbaar is, sal AfriForum NERSA se redes vir die Eskom-tariefverhogings noukeurig bestudeer. Daarna sal die organisasie die saak met sy regspan bespreek om te bepaal watter verdere stappe nodig is om verbruikers se regte te beskerm.

AfriForum bly daartoe verbind om as waghond op te tree en toe te sien dat verbruikers nie aanhou betaal vir regulatoriese foute, swak bestuur en ’n kragmonopolie wat selde aanspreeklik gehou word nie.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf