|

AfriForum gereed om Knysna-waterkrisis te beredder, beywer nou vir samewerkingsooreenkoms

Klankgreep: Marthinus Erasmus (Afrikaans)
Klankgreep: Marthinus Erasmus (Engels)

Die skorsing van dr. Lulamile Mapholoba, munisipale bestuurder van die Knysna Plaaslike Munisipaliteit, laat volgens AfriForum se Knysna-tak nie net ’n leemte in die bestuur van dié munisipaliteit nie, maar sal ook verdere druk op die voortgesette waterkrisis in die gebied plaas. AfriForum moedig daarom, in die belang van die Knysna-gemeenskap, die sluiting van ’n samewerkingsooreenkoms tussen die munisipaliteit en die burgerregteorganisasie nou dringend aan.

AfriForum se Knysna-tak het die munisipaliteit reeds vroeg verlede jaar hieroor genader. Volgens Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap, duur onderhandelinge steeds voort, maar die organisasie is besorg daaroor dat onderhandelinge moontlik nou, ná Mapholoba se skorsing, gaan vasval.

Erasmus verduidelik: “Só ’n ooreenkoms sal die burgerregteorganisasie in staat stel om ’n daadwerklike bydrae tot dienslewering en krisisbestuur in die munisipaliteit te maak. Dit word al hoe duideliker dat die Knysna-munisipaliteit, sowel as talle ander munisipaliteite, nie oor die vermoë of kapasiteit beskik om doeltreffende, voorkomende bestuur toe te pas nie. Daarom staan AfriForum ywerig gereed met ’n verskeidenheid kundiges om munisipaliteite by te staan, inwoners se regte te beskerm en te help verseker dat gemeenskappe die dienste ontvang wat hulle verdien.”

Die burgerregteorganisasie wys daarop dat dringende optrede noodsaaklik is om die onwettige gebruik van water, swak instandhouding van infrastruktuur en volgehoue wanbestuur in die munisipaliteit te takel.


Erasmus kritiseer die munisipaliteit se skynbare onvermoë om die onwettige gebruik van water hok te slaan. “Dit is eenvoudig nie billik dat wetsgehoorsame inwoners met watermeters vir hul gebruik belas word, terwyl na raming sowat 8 000 van die 11 000 watermeters onwettiglik omseil word nie. Die las word dus op die skouers van ’n klein groep verantwoordelike inwoners geplaas, terwyl onwettige gebruik grootliks onbeheerd voortduur,” sê Erasmus.

Die munisipaliteit se swak infrastruktuurbeplanning en -instandhouding skep ook volgens Erasmus ernstige uitdagings vir volhoubare watergebruik in die munisipaliteit. “Die munisipaliteit het ’n kritieke verantwoordelikheid om hul verpligting na te kom. Inwoners kan nie voortdurend met streng waterbeperkings belas word, terwyl meer as 50% van beskikbare water verlore gaan weens waterlekkasies nie. Beter bestuur is noodsaaklik om hierdie vermorsing te voorkom,” verduidelik hy.

AfriForum voer voorts aan dat die eenvormige toepassing van waterbeperkings oor die hele munisipale gebied onredelik is. “’n Dorp soos Sedgefield wat deur afsonderlike waterbronne gevoed word, word ook aan dieselfde streng waterbeperkings onderwerp as Knysna, ten spyte daarvan dat Sedgefield nie noodwendig dieselfde vlak van waternood as Knysna ervaar nie. Hierdie benadering getuig van ’n gebrek aan gedifferensieerde beplanning en billike bestuur,” verduidelik Erasmus.

Ondanks tekortkominge benadruk Erasmus wel dat talle munisipale amptenare se toegewydheid in die bestuur van die huidige waterkrisis verwelkom moet word. “Johnny Douglas, direkteur van Gemeenskapsdienste, en die Knysna Gesamentlike Operasionele Sentrum het ’n uiters moeilike taak en veg verbete om die afgelope dekade se infrastruktuurverval en bestuursagterstande te probeer omkeer. AfriForum se Knysna-tak staan gereed om Douglas en sy span waar moontlik by te staan en moedig die publiek aan om water steeds spaarsamig te gebruik aangesien die waterskaarste nog nie verby is nie.”

Sluit vandag nog aan by AfriForum se Knysna-tak. Kontak Erasmus vir meer inligting (marthinus.erasmus@afriforum.co.za of 081 216 9602.)

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf