AfriForum en Saai gee stukrag aan die Barolong Boo Seleka se volgende landbou-onwikkelingsfase
AfriForum en Saai het deur hul landbou-ontwikkelingsinkubator, Resilient Regenerative Agricultural Initiative NPC (RRAIN), die volgende fase van Kgosi Gaboilelwe se landbou-ontwikkelingstrategie vir die Barolong Boo Seleka van Thaba’Nchu stukrag gegee deur die opleiding van die eerste 20 deelnemers aan die agterplaas-groentetuinprogram te befonds én groentesaad wat deur Rijk Zwaan geskenk is, te oorhandig. Die opleiding sal deur Thabo Olivier van Let’s Grow Food gedoen word.
Hierdie aankondiging volg op die Ke Nako-loodsgeleentheid wat Donderdag 12 Maart by Barolong Saal in Thaba’Nchu gehou is. Die geleentheid is deur verskeie rolspelers bygewoon, wat saamwerk aan die implementering van die volgende fase van die strategie. Agri All Africa, ’n langtermyn-netwerkvennoot van AfriForum en Saai, het ook tot die geleentheid bygedra en sal verantwoordelik wees vir die versekering van ’n behoorlike platform vir die gekommersialiseerde landbou-ontwikkeling wat sal plaasvind.
“Dit is ’n voorreg vir AfriForum om steeds deel te wees van hierdie reis en vennootskap wat ses jaar gelede gevestig is. Ons is dankbaar dat die toewyding, harde werk en volharding van die afgelope paar jaar bygedra het tot die vestiging van die grondslag wat hierdie volgende fase van die landbou-ontwikkeling in Thaba’Nchu moontlik maak. Hierdie samewerkingsinisiatief beklemtoon dat vreedsame en voorspoedige naasbestaan van die verskillende kultuurgemeenskappe in die land bereik kan word deur die smee van vennootskappe gegrond op gedeelde waardes met ’n duidelike gedeelde visie,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum.
“Die meganisering, modernisering en kommersialisering van kleinboere is noodsaaklik vir welvaartskepping, die versekering van voedselsekerheid en die verbetering van die algemene sosio-ekonomiese toestande van gemeenskappe in diep landelike gebiede. Ons is dankbaar om betrokke te wees by hierdie inisiatief wat geleenthede skep vir kleinboere om te ontwikkel en tot hul volle potensiaal te groei,” sê dr. Theo de Jager, uitvoerende direksievoorsitter van Saai.
AfriForum en Saai is sedert 2020 betrokke by landbou-ontwikkelingsprojekte in vennootskap met die Barolong Boo Seleka.



