AfriForum versoek hof om stokkie voor verkoop van ikoniese Bloem-eiendomme te steek
AfriForum se takke in Bloemfontein het vandag ’n hofaansoek ingedien teen die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit se beoogde vervreemding en verkoop van verskeie munisipale eiendomme, waaronder Tempe-lughawe en die Franklin-natuurreservaat op Naval Hill. Die organisasie versoek onder meer dat die proses in sy geheel stopgesit moet word sodat die verkoop of verhuring van hierdie eiendomme nie plaas mag vind alvorens die regte prosesse nie gevolg is nie.
Die organisasie meen dat die metro se besluit om hierdie eiendomme te vervreem onverskillig is en moontlik teenstrydig met die wet en die beginsels van verantwoordelike openbare bestuur en deursigtigheid is.
Hoewel die metro slegs 14 projekte in sy openbare kennisgewing gelys het, sluit hierdie projekte in der waarheid 153 individuele erwe in wat oor verskeie dele van die metro versprei is. AfriForum meen dat hierdie grootskaalse vervreemding verreikende gevolge kan inhou vir stadsbeplanning, omgewingsbewaring en openbare toegang tot strategiese grond.
“Hierdie eiendomme behoort aan die gemeenskap, nie aan die politieke elite wat dit agter geslote deure wil verhandel nie. Ons kan eenvoudig nie toelaat dat strategiese en historiese grondgebied, soos die Tempe-lughawe en Naval Hill, sonder behoorlike openbare deelname en deursigtigheid vervreem word nie,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.
AfriForum het op 23 Oktober 2025 ’n formele brief van beswaar aan die Mangaung-metro gerig waarin versoek is dat die proses onmiddellik gestaak moet word totdat behoorlike konsultasie met die publiek plaasgevind het.
Volgens Groenewald het verskeie pogings om met die metro in gesprek te tree en duidelikheid oor die proses te verkry tot dusver geen resultate opgelewer nie.
“Hierdie gebrek aan deursigtigheid laat ons met geen ander keuse as om die saak deur die howe te laat beslis nie,” sluit Groenewald af.
AfriForum voer aan dat die hofaansoek daarop gemik is om te verseker dat die Mangaung-metro sy wetlike verpligtinge ingevolge die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur 56 van 2003 en die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid 3 van 2000 (PAJA) nakom.



