| | | | | |

AfriForum se #EkIsWondermeisie bemagtig 500 hoërskoolmeisies

Meer as 500 hoërskoolmeisies het op 14 Januarie 2026 die skooljaar op ’n kragtige wyse afgeskop en deelgeneem aan AfriForum se #EkIsWondermeisie-aanbieding wat by Hoërskool Pretoria-Noord plaasgevind het. Dié sessie het gefokus op die belang van ’n gesonde selfbeeld en selfwaarde en hoe dit ’n sleutelrol speel in die hantering en voorkoming van boeliegedrag.

Die #EkIsWondermeisie-inisiatief fokus reeds sedert 2021 daarop om meisies toe te rus met emosionele vaardighede, selfvertroue en innerlike veerkragtigheid – noodsaaklike boustene in ’n tyd waarin sosiale druk, konstante vergelyking met ander en aanlyn boeliegedrag toenemend voorkom.

Die aanbieding, met ’n opwindende interaktiewe komponent, het meisies aangemoedig om hul eie waarde raak te sien, hul stem te gebruik en te verstaan dat hul waarde nie bepaal word deur ander se opinies, sosiale media of boeliegedrag nie.

“Wanneer ’n meisie weet wie sy is, wat sy werd is en waar haar krag vandaan kom, kan sy sterk staan teen boelies,” verduidelik Mari-Louise Erasmus, AfriForum se projekkoördineerder vir Onderwys in die noordstreek. Sy benadruk dat dié boodskap sentraal staan in die #EkIsWondermeisie-benadering.

Onderwysers het die sessie verwelkom en bestempel as ’n waardevolle aanvulling tot die ontwikkeling van lewensvaardighede onder meisies.

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners