AfriForum sê Ramaphosa is verantwoordelik vir wrywing met VSA
Die burgerregteorganisasie AfriForum sê president Cyril Ramaphosa en ander ANC-leiers se roekelose optrede en beleidsrigtings is direk verantwoordelik vir Suid-Afrika se verswakkende verhouding met die VSA. Volgens AfriForum het Ramaphosa tydens sy toespraak gisteraand gepoog om die verantwoordelikheid vir die negatiewe gevolge van sy eie optrede te ontduik deur die diplomatieke krisis met die VSA valslik voor te hou as die gevolg van sogenaamde “disinformasie” wat versprei word deur groeperings in Suid-Afrika.
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê daar bestaan eerder ’n direkte verband tussen Ramaphosa se bekendmaking op 23 Januarie vanjaar dat hy die Onteieningswet, wat onteiening sonder vergoeding moontlik maak, onderteken het en president Donald Trump se aankondiging slegs 10 dae later dat hy die VSA se befondsing aan Suid-Afrika onttrek weens onder meer die miskenning van eiendomsreg in die land. “Ramaphosa se ondertekening van die Bela-wet, wat die voortbestaan van Afrikaanse skole en gevolglik Afrikaanse kultuurgemeenskappe bedreig, het ook ’n sterk boodskap aan die VSA gestuur dat Afrikaanssprekende minderhede in die land geteiken word. Hierdie boodskap is versterk deur die feit dat Ramaphosa steeds volstrek weier om die ‘Kill the Boer’ oproep tot etniese geweld teen Afrikaners, te veroordeel,” voeg Kriel by.
Volgens Kriel is dit verstaanbaar dat Ramaphosa nie die name noem van diegene wat hy van disinformasie beskuldig nie, aangesien daar geen feite bestaan van wie kwansuis disinformasie sou verkondig het nie of wanneer en waar dit plaasgevind het nie. “Media-instellings wat gepoog het om AfriForum van disinformasie te beskuldig moes reeds op agt geleenthede amptelik vir AfriForum om verskoning vra dat hulle leuens oor AfriForum versprei het,” sê Kriel.
Kriel herbevestig dat Afriforum in belang van almal in die land daartoe verbind bly om ’n konstruktiewe rol te speel om die verswakkende verhouding met die VSA te beredder. AfriForum en die Solidariteit Beweging het reeds, volgens hom, by verskeie geleenthede voorgestelde oplossings aan Ramaphosa en ander ANC-leiers voorgehou, maar dit is bloot geïgnoreer. “Ramaphosa se blatante ignorering van poging om oplossings te vind, maak ’n bespotting van sy uitspraak dat hy daartoe verbind is om ‘Suid-Afrikaanse oplossings vir Suid-Afrikaanse probleme’ te vind,” aldus Kriel,
Die miskenning van eiendomsreg in Zimbabwe het volgens Kriel tot grootskaalse ellende vir almal in daardie land gelei, wat meegebring het dat miljoene Zimbabwiërs uit hulle land gevlug het. “AfriForum se stryd teen onteiening sonder vergoeding in Suid-Afrika is dus ’n stryd wat uit lojaliteit teenoor die land gevoer word, terwyl diegene wat die bedreiging wat die Onteieningswet vir die land inhou as disinformasie afmaak, dislojaal optree teenoor die mense van Suid-Afrika,” sluit Kriel af.



