AfriForum eis ondersoek om Kariega teen moontlike besoedeling te beskerm
Die vermeende ongereguleerde berging van groot hoeveelhede erts in die omgewing van Kariega (Uitenhage) het AfriForum genoop om in te gryp voordat wydverspreide besoedeling in die gebied plaasvind. Die burgerregteorganisasie het die afgelope week die Nelson Mandelabaai Metropolitaanse Munisipaliteit en die betrokke regeringsdepartemente versoek om ’n ondersoek van stapel te stuur na die wettigheid van dié bedrywighede en die impak wat dit op die omgewing en plaaslike infrastruktuur het.
Groot hoeveelhede erts, wat vermoedelik mangaan is, word na bewering op ’n eiendom in Kariega gestoor wat vir landboudoeleindes geoormerk is. Die berging en hantering van erts word deur ’n reeks omgewings- en luggehaltevereistes gereguleer, daarom moet operateurs aan toepaslike wetgewing voldoen, veral waar die vrystelling van stof, moontlike besoedeling van grond of water en risiko’s vir omliggende gemeenskappe ter sprake is.
AfriForum het antwoorde by die munisipale bestuurder en die direkteur van Beplanning en Grondgebruik geëis oor die bedrywighede in Kariega en of alle vereiste grondgebruik-, munisipale- en omgewingsgoedkeurings deur die eienaars verkry is. Die metro het bevestig dat die betrokke erf as landbougrond gesoneer is en dus nie vir hierdie tipe aktiwiteit geoormerk is nie.


Die burgerregteorganisasie het ook sy kommer te kenne gegee oor die moontlike besoedeling wat kan plaasvind indien die erts onregmatig geberg word. Terwyl die fyn stof wat die erts vrystel gesondheidsgevare vir die gemeenskap kan inhou, kan reënwater ook daarmee meng wanneer dit nie behoorlik gestoor word nie. Dit kan op sy beurt afloop na stormwaterstelsels, riviere of grondwater.
Dokumentasie wat bevestig dat die eiendom waar die erts glo gestoor word aan die nodige inspeksies en voldoeningsvereistes gehoor gegee het, is by die Oos-Kaapse Departement van Ekonomiese Ontwikkeling, Omgewingsake en Toerisme, asook die Departement van Water en Sanitasie aangevra.
“Sonder amptelike bevestiging dat hierdie erts verantwoordelik en in ooreenstemming met toepaslike wetlike voorskrifte geberg word, bly daar ernstige vrae oor of die gemeenskap se gesondheid en die welstand van die omgewing werklik voldoende beskerm word,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder van Omgewingsake.
“Ekonomiese ontwikkeling is belangrik, maar dit kan nie op ’n manier plaasvind wat die gemeenskap, die omgewing of openbare infrastruktuur benadeel nie. Die wetlike vereistes bestaan juis om te verseker dat sulke aktiwiteite verantwoordelik bestuur word,” sê Louis van der Vyver, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap.
AfriForum sal die nodige stappe doen om aanspreeklikheid en nakoming van die wet te verseker indien moontlike onreëlmatighede met die berging van hierdie erts aan die lig kom.



