AfriForum help amper 50 jaar oue opnames van Griekwa-Afrikaans bewaar
Deur Megan Swart
AfriForum beywer hom reeds jare lank vir die beskerming en bevordering van Afrikaans, insluitend die verskeie variëteite wat uit dié taal voortspruit. Die burgerregteorganisasie het daarom hande gevat met die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein om ’n versameling klankkassette met opnames van Griekwa-Afrikaans daarop, te laat digitiseer.
Altesaam 215 kassette is gedigitiseer wat in die 1980’s deur professor Christo van Rensburg, die bekende taalkundige, en professor Hans du Plessis, akademikus, skrywer en digter, opgeneem is. Van Rensburg, Du Plessis en ander professore, waaronder Hans Pienaar wat die versameling aan NALN geskenk het, het destyds ’n navorsingsprojek oor die Afrikaans van die Griekwa-gemeenskap aangepak.
Wyno Simes, kurator van NALN, sê altesaam 192 van hierdie kassette het opnames aan kant A en B gehad, met 23 wat net opnames aan kant A gehad het.
“Alhoewel die kassette baie oud was, was dit ’n geluk dat net enkeles se linte gebreek het. Selfs dié kassette is herstel en kon ook gedigitiseer word,” sê Simes.
Die kassette bevat opnames van die Griekwa-Afrikaanssprekendes van die Noord-Kaap. Die professore het destyds oral in Suid-Afrika navorsing gedoen oor die geografiese dialekte van Afrikaans. Du Plessis en Pienaar was veral geïnteresseerd in Griekwa-Afrikaans en bandopnemers is gebruik om dié Noord-Kaapse mense se dialek vas te vang.
Volgens die Afrikaanse e-naslaangids Weet was baie van die mense in die gemeenskappe onder wie die professore navorsing gedoen het nog nooit eens buite hul eie dorp nie. ’n Bandopnemer was boonop iets wat hulle glad nie vertrou het nie, daarom moes Du Plessis en Van Rensburg baie tyd daaraan spandeer om mense se vertroue te wen.
Die gedigitiseerde opnames dien nou as ’n belangrike bron van navorsing vir onder meer universiteite en televisiereekse oor die unieke kenmerke van Griekwa-Afrikaans en sal voorts deur NALN bewaar word. NALN bewaar Afrikaanse musiek en toneel, asook enige kreatiewe werke in Afrikaans.
Sonder AfriForum se finansiële hulp sou dié opnames uiteindelik tot niet gegaan het. NALN het boonop nie die geriewe om klankkassette teen die korrekte temperatuur te bewaar nie.
“Streng gesproke sou elke kasset minstens eenkeer ’n jaar gespeel moes word om dit in stand te hou en dit is net nie iets wat NALN se kapasiteit sou toelaat nie. Indien ons dit nie laat digitiseer het nie, sou die linte van die kassette mettertyd gedisintegreer het en sou die inhoud vir altyd verlore gewees het,” sê Simes.
“Die digitisering van alle aspekte van Afrikaans raak al meer noodsaaklik. Ou bewaringsmetodes soos klankkassette, mikrofilms, en selfs gedrukte en geskrewe inligting begin verlore raak omdat hierdie mediums nie goed verouder nie. Ons moet alles moontlik doen om te verseker dat ons taal in al haar fasette bewaar bly en dat die inligting vir die nageslag toeganklik bly,” sê Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake.
AfriForum het al op verskeie geleenthede NALN bygestaan met die bewaring van die Afrikaanse kunste. Die burgerregteorganisasie het byvoorbeeld gehelp sorg dat die inhoud van die skrywer PG du Plessis se studeerkamer, wat hy aan NALN nagelaat het, van sy plaas na Bloemfontein vervoer kon word.
“Dis altyd vir ons ’n voorreg om met ’n projek van NALN te help. Die bewarings- en navorsingsrol wat hulle in Afrikaans oor Afrikaanse taal- en letterkunde vervul, is van onskatbare waarde, asook die materiaal wat hulle bewaar,” sê Bailey.
Sy moedig die publiek aan om as Vriende van NALN by hulle werksaamhede betrokke te raak, hul werk te ondersteun en NALN te besoek wanneer hulle in Bloemfontein kom. Stuur ’n e-pos na naln@sacr.fs.gov.za om betrokke te raak.



