AfriForum verwelkom dat VSA-optrede nie gewone Suid-Afrikaners benadeel nie
AfriForum verwelkom die feit dat die VSA se jongste optrede rakende Suid-Afrika nie gewone Suid-Afrikaners of die land sal benadeel nie, maar dat dit spesifiek gerig is teen politici en ander wat hulle skuldig maak aan growwe menseregtevergrype teen minderhede en Afrikaners. Die menseregtevergrype waarna die VSA verwys behels volgens AfriForum die oproepe tot etniese geweld teen Afrikaners en boere deur slagspreuke soos “Kill the Boer, asook die inisiëring en implementering van onteiening sonder vergoeding en diskriminerende rassemaatreëls.
Dié stap deur die VSA behels onder meer dat individue wat hulself skuldig maak aan spraak wat geweld teenoor minderhede aanhits of verantwoordelik is om beleide deur te druk wat minderhede en eiendomsreg in Suid-Afrika sal benadeel, nie toegang tot die VSA sal verkry nie.
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het AfriForum en die Solidariteit Beweging se voorstelle om die dispuut met die VSA op te los – wat die afgelope nege maande tydens gesprekke aan die Suid-Afrikaanse regering voorgehou is – tot dusver op dowe ore geval en moet die Suid-Afrikaanse regering gevolglik verantwoordelikheid aanvaar vir die jongste wending.
“AfriForum het as deel van die Solidariteit Beweging se voorleggings aan die regering, omvattende voorstelle gemaak oor hoe die dispuut met die VSA rakende die Onteieningswet en die ‘Kill the Boer’-slagspreuk opgelos kan word, en het ook ’n omvattende plan ingedien oor hoe die stryd teen landelike misdaad en plaasmoorde verskerp kan word,” voeg Kriel by.
Terwyl die regering sloer met besluite oor die voorstelle, sal AfriForum, volgens Kriel, voortgaan om die nuwe Onteieningswet, wat onteiening sonder vergoeding moontlik maak, volstoom in die Suid-Afrikaanse howe te beveg. Die saak het reeds in die Wes-Kaapse Hooggeregshof begin.
Kriel wys ook daarop dat AfriForum, gegewe die feit dat die Suid-Afrikaanse howe versuim het om teen Julius Malema se gebruik van die “Kill the Boer”-slagspreuk op te tree, sal voortgaan met sy bestaande veldtog om die internasionale gemeenskap te versoek om teen Malema op te tree. AfriForum is volgens Kriel dankbaar dat die VSA nou strafmaatreëls ingestel het teen diegene, soos Malema, wat etniese geweld teen Afrikaners en ander minderhede aanhits.
AfriForum bly daartoe verbind om in samewerking met die Solidariteit Beweging voort te gaan om oplossings vir die dispuut tussen Suid-Afrika en die VSA te help vind deur middel van die gesprekvoering wat die organisasie tans met beide die Suid-Afrikaanse en VSA se regerings voer.
“Ons sal opnuut die dringendheid daarvan onder die Suid-Afrikaanse regering se aandag bring dat die regering AfriForum, Solidariteit en die Solidariteit Beweging se voorstelle om die dispuut met die VSA op te los, ernstig moet oorweeg. Dit is in almal in die land se belang om te help verhoed dat Suid-Afrika as land gestraf word weens die roekelose beleidsrigtings en optrede van ’n groep politici,” sluit Kriel af.



