NUUSKOMMENTAAR: Zuma probeer Khampepe stuit
Deur Marthinus Koekemoer
Oudpresident Jacob Zuma is nog nie klaar met sy streke nie. Hierdie keer probeer hy om oudregter Sisi Khampepe, wat die kommissie van ondersoek na beweerde politieke inmenging in sake van die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) lei, te laat verwyder.
Zuma is reeds op die agtervoet ná die Johannesburgse Hooggeregshof Maandag sy en oudpresident Thabo Mbeki se aansoeke om Khampepe te verwyder van die hand gewys het. Hul aansoeke is weliswaar op tegniese gronde uitgegooi, maar dit toon wel hoe sy regspan reeds die spoor byster geraak het.
Hoekom is Zuma benoud?
Die Konstitusionele Hof het Zuma in 2021 skuldig bevind aan minagting van die hof oor sy weiering om voor die Zondo-kommissie te verskyn en hy is 15 maande tronkstraf opgelê. Khampepe was die waarnemende hoofregter in dié saak en, volgens Zuma, beteken dit dat sy bevooroordeeld is en nie onpartydig sal kan optree nie. Hy het voorts gedreig om nie met die Khampepe-kommissie saam te werk nie. Dit klink na presies dieselfde deuntjie as wat hy gedurende die Zondo-kommissie gesing het.
Getuies het reeds voor die Khampepe-kommissie getuig oor politieke moorde wat in opdrag van hooggeplaaste ANC-leiers uitgevoer is. Hierdie ANC-leiers het nie destyds by die WVK amnestie gekry nie.
Wat sê AfriForum?
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het tydens sy verskyning voor die Khampepe-kommissie aangevoer dat daar gelykheid voor die reg vir almal moet wees. As lede van die voormalige veiligheidsmagte vervolg gaan word, moet ANC-leiers wat nie amnestie gekry het vir growwe menseregteskendings tydens die vorige bedeling nie, ook vervolg word.
Advokaat Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid het Kriel, sowel as Cilliers van der Merwe se getuienis voor die Khampepe-kommissie gelei. Van der Merwe se pa, Jaap, ’n onskuldige burgerlike – is op 1 November 1978 koelbloedig naby die Botswana-grens deur ANC-insypelaars vermoor. Die Van der Merwe-familie het aan AfriForum ’n mandaat gegee om hulle voor die Khampepe-kommissie by te staan. Die een oorlewende vermeende moordenaar se identiteit is bekend en hy het nie destyds amnestie by die WVK gekry nie. Hy is egter steeds nie vervolg nie.
Waar los dit Zuma?
Zuma kan natuurlik sy regstrategie aanpas, maar as sy saak wel by Khampepe eindig, is dit duidelik dat die afgetrede regter nie sal skroom om hom vas te vat nie. Zuma sal waarskynlik weer begin siek voel as hy ooit weer êrens moet gaan getuig of met die tronk gedreig word. Daar is natuurlik ook nie tans iets wat Zuma aan die moord op Jaap van der Merwe koppel nie, maar Zuma se optrede is dié van iemand wat iets het om weg te steek. Dis moeilik om te glo, maar die oudpresident het waarskynlik nog geraamtes in sy kas wat ons nog nie van weet nie.



