AfriForum eis dat KZN-premier onwettige optrede dringend regstel
AfriForum het op 5 Maart deur ’n prokureursbrief aan Thami Ntuli, premier van KwaZulu-Natal, en Thulasizwe Buthelezi, die LUR vir die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake in die provinsie, geëis dat die honoraria van ndunankulu (senior hoofman) M.T. Mpungose en induna (hoofman) M.S. Mahaye wat weerhou is, aan hulle betaal word en dat antwoorde verskaf word waarom die tradisionele leiers nie betaal is nie. Die izinduna het geen vooraf kennisgewing ontvang dat hulle nie betaal gaan word of dat hulle geskors of afgedank is nie. Ndunankulu Mpungose is 62 jaar oud en dien al vir 24 jaar as tradisionele leier, terwyl induna Mahaye 70 jaar oud is en al 36 jaar as tradisionele leier dien. Beide die tradisionele leiers dien die Mpungose-tradisionele gemeenskap naby Nkandla.
Dié verdere onregmatige en onwettige optrede deur die departement volg op briewe wat AfriForum aan die kantoor van die premier en die departement in Februarie gestuur het – wat onbeantwoord gebly het, ten spyte daarvan dat die briewe uitgelig het dat ndunankulu Mpungose met ’n vuurwapen gedreig is en dat daar nie aan wetsbepalings voldoen word nie.
“Dit is eenvoudig onmenslik en onaanvaarbaar dat twee waardige en wyse gemeenskapsleiers, wat hul gemeenskappe en hul inkosi (senior tradisionele leier) met soveel toewyding oor soveel jare dien, op hierdie manier behandel word. Dit wil voorkom of die provinsiale amptenary alle menslikheid verloor het en nie omgee oor die aantasting van selfs gerespekteerde oumense se menswaardigheid nie. Dit is verder duidelik dat die erns van die omstandighede en die potensiële erge negatiewe impak op voetsoolvlak nie begryp word nie,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum.
Volgens Uys is dit duidelik dat die politieke wil totaal ontbreek om te verseker dat daar aan wetsbepalings voldoen word en dat onbehoorlike politieke inmenging waarskynlik ’n rol speel in die onregmatige optrede teen die leiers. “Die geval van hierdie twee leiers is maar een voorbeeld van baie. Indien die saak skeefloop sal daar bloed op die hande van die amptenary wees,” sluit Uys af.
AfriForum het sedert 2017 ’n goeie verhouding met die Mpungose-tradisionele gemeenskap en spesifiek die gemeenskap van Nkungumathe. Hierdie verhouding is gevestig deur AfriForum se bystand aan die gemeenskap om ’n hofbevel te bekom om die bou van die Kuba Sekondêre Skool in die gemeenskap te verseker.



