Veiligheidsrisiko’s op Bloemfontein-vullisterreine kort nóú aandag – AfriForum



AfriForum eis dat die Mangaung Metropolitaanse Metro dringend optree om die veiligheidsrisiko’s by Bloemfonteinse vullisterreine uit die weg te ruim. Dit volg op twee strafregtelike sake wat die organisasie reeds in September 2025 teen die metro aanhangig gemaak het weens hul versuim om die vereiste standaarde by die Noordelike en Suidelike vullisterreine in Bloemfontein te handhaaf.
In ’n skrywe aan Sello More, stadsbestuurder vir die Mangaung-metro, waarsku AfriForum dat die voortgesette teenwoordigheid van onwettige bewoners op hierdie vullisterreine ’n ernstige veiligheidsrisiko vir omliggende residensiële gemeenskappe inhou. Ten spyte van verskeie veiligheidsoperasies wat reeds uitgevoer is om onwettige bewoners van die terreine te verwyder, blyk dit dat die situasie grootliks onveranderd bly.
AfriForum meen dat die metro se onlangse mediaverklaring – waarin aangedui word dat herwinners ’n proses moet volg om te registreer alvorens hulle op die terreine kan werk – nie die kern van die probleem oplos nie. Hoewel administratiewe regulering van herwinning bepaalde voordele kan inhou, los dit nie die probleem van onwettige bewoning van munisipale eiendom en die gepaardgaande misdadige aktiwiteite op nie.
Die organisasie betwis ook die metro se ontkenning dat georganiseerde bendes, soos die sogenaamde Born to Kill (BTK)-bende, op die vullisterreine teenwoordig is. Tydens verskeie veiligheidsoperasies is verskeie onwettige bewoners identifiseer wat glo bande met georganiseerde misdaadstrukture het.
Daarbenewens is daar in omliggende woonbuurte verskeie voorvalle van huisbrake, verdagte persone en ander misdadige aktiwiteite aangemeld. In verskeie gevalle waar arrestasies gemaak is of verdagtes ondervra is, het dit geblyk dat sommige van hierdie persone bande met die BTK-bende het.
Volgens Christo Groenewald, distrikskoördineerder vir AfriForum in Bloemfontein, kan daar nie toegelaat word dat munisipale infrastruktuur hawens vir misdadige elemente word nie
“Die voortgesette teenwoordigheid van onwettige bewoners op hierdie vullisterreine stel omliggende gemeenskappe aan ernstige risiko bloot en ondermyn wetstoepassingspogings. Die metro moet dringend optree om hierdie terreine behoorlik te beveilig en die onwettige besetting daarvan te beëindig,” sê Groenewald.
AfriForum wys ook daarop dat die organisasie reeds vir ’n dekade lank jaarliks vullisterreine landswyd oudit, dit sluit die Noordelike en Suidelike vullisterreine in Bloemfontein in. Ten spyte daarvan dat tekortkominge van die vullisterreine gereeld in die oudits uitgewys word was daar, volgens AfriForum, min tot geen betekenisvolle verbetering in die veiligheid en bestuur van hierdie terreine oor die afgelope tien jaar nie.
AfriForum het die Mangaung-metro versoek om dringend strenger toegangsbeheer en sekuriteitsmaatreëls by beide vullisterreine in te stel, alle onwettige bewoners te verwyder en saam met wetstoepassingsowerhede op te tree teen die teenwoordigheid van georganiseerde misdadige elemente.
Die organisasie het ook versoek dat die kantoor van die stadsbestuurder binne tien werksdae ná ontvangs van die skrywe skriftelike terugvoer verskaf oor die stappe wat die metro beplan om te doen om die kwessie op te los.



