Stilswye oor polisiereserviste laat vrae oor toewyding tot misdaadbekamping – AfriForum
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se versuim om vrae te beantwoord oor die stand van sy reservisteprogram en sy planne vir die opleiding van nuwe reserviste, laat volgens AfriForum gevaarligte flikker. AfriForum meen die gebrek aan deursigtigheid laat nóg vrae ontstaan oor die SAPD se verbintenis om alle beskikbare hulpbronne in te span om die land se misdaadkrisis te bekamp.
AfriForum het reeds meer as ’n jaar gelede inligting oor die SAPD se reservisteprogram ingevolge die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aangevra. Dit sluit besonderhede in oor die aantal reserviste wat sedert 2010 gewerf is, hoeveel tans aktief is en hoe gereeld nuwe reserviste opgelei word. Die SAPD het egter tot op hede versuim om dié vrae voldoende te beantwoord.
Volgens Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, is dit onaanvaarbaar dat die polisie ongewillig is om deursigtig te wees oor ’n program wat juis ontwerp is om ’n oorbelaste polisiediens te versterk.
“Suid-Afrikaners moet hulself afvra waarom die polisie nie die inligting oor hierdie program wil verskaf nie. Indien die reservisteprogram ’n prioriteit is, behoort die polisie geen probleem te hê om sy planne, sy suksesse en sy uitdagings met die publiek te deel nie. Die stilswye skep die indruk dat die program eenvoudig nie ernstig opgeneem word nie.”
Broodryk wys daarop dat daar talle Suid-Afrikaners is wat bereid is om hul tyd, energie en kundigheid op te offer om hul gemeenskappe te help beskerm.
“Daar is wetsgehoorsame burgers wat bereid is om sonder enige vergoeding hul hand op te steek om die polisie te ondersteun, maar die SAPD gryp eenvoudig nie die geleentheid aan nie. In ’n land wat onder ’n ernstige misdaadkrisis gebuk gaan, behoort die mobilisering van burgerlike ondersteuning een van die hoogste prioriteite te wees,” sê Broodryk.
“Die reservisteprogram is nie ’n luuksheid nie, maar ’n noodsaaklike magsvermenigvuldiger. Die SAPD kan eenvoudig nie alleen die land se misdaadprobleme oplos nie. Gemeenskappe wil help, maar die polisie se topbestuur lyk eerder daarop ingestel om hierdie hulpbron te ignoreer.”
Volgens die SAPD se jaarverslae was daar in die 2011/2012-boekjaar meer as 52 000 reserviste op die boeke. In die 2024/2025-boekjaar het die aantal aktiewe polisiereserviste na minder as 3 300 gedaal. Terwyl die SAPD se reservisteprogram in duie stort, het AfriForum se buurt- en plaaswagte in dieselfde tyd van 1 tot 177 gegroei, met duisende vrywilligers wat aktief betrokke is.
“Dit is ’n bewys dat burgers bereid is om verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid te neem. Die probleem is dus nie ’n gebrek aan belangstelling vanuit gemeenskappe nie, maar eerder ’n gebrek aan politieke wil en leierskap,” sê Broodryk.
AfriForum waarsku dat die voortdurende verswakking van die reservisteprogram ernstige gevolge vir openbare veiligheid inhou. AfriForum doen daarom ’n beroep op die waarnemende minister van Polisie en die SAPD se topbestuur om deursigtig te wees oor die toekoms van die reservisteprogram en om daadwerklike stappe te doen om dit uit te brei.
“Gemeenskappe wil help. Die vraag is egter of die SAPD werklik bereid is om daardie hulp te aanvaar. AfriForum sal aanhou om die polisie tot verantwoording te roep totdat antwoorde verskaf word en konkrete optrede volg,” sluit Broodryk af.



