Pak munisipaliteite se kragprobleme só, stel AfriForum voor in ope brief
Munisipaliteite wat nie Eskom se ooreenkomste vir die terugbetaling van skuld nakom nie, kan volgens AfriForum dalk verder vasgevang word in die kragvoorsiener se planne om sy monopolie uit te brei. En terwyl die eintlike probleme rakende kragvoorsiening steeds nie met dié plan getakel word nie, kan Eskom sy sin kry en munisipaliteite dwing om verspreidingsagentskapooreenkomste af te dwing. AfriForum het vandag in ’n ope brief aan die parlementêre Portefeuljekomitee oor Elektrisiteit en Energie sy kommer en voorbehoude oor dié plan duidelik gemaak en alternatiewe tot dié munisipale kragprobleem voorgelê.
Vasgevang in ’n net van skuld
Volgens Deidré Steffens, raadgewer vir Plaaslike Regeringsake by AfriForum, is munisipaliteite se vermoë om die verspreiding van elektrisiteit na wense te behartig, uiters treurig.
Sy hou vol dat munisipaliteite jare lank óf nie in staat was om elektrisiteitverspreiding na wense te behartig nie óf bloot onwillig was. Die instandhouding van infrastruktuur en skuldinvordering is boonop ook nie behoorlik gedoen nie. “Kortom, hierdie munisipaliteite het Eskom en die publiek gefaal,” verduidelik sy.
Luidens die jongste beskikbare data beloop munisipaliteite se skuld aan Eskom tans meer as R114 miljard. In 2023 is ’n skuldverligtingprogram vir munisipaliteite ingestel. Om deel van dié program te vorm moes munisipaliteite aansoek doen by nasionale Tesourie. Sekere streng voorwaardes is egter gestel. Munisipaliteite moes onder meer vir drie jaar lank hul huidige rekeninge getrou aan Eskom betaal. Vir drie jaar lank sou Eskom en die Tesourie dan elke jaar ’n derde van die betrokke munisipaliteit se totale skuld afskryf. Uit die 71 munisipaliteite wat aansoek gedoen het om aan die program deel te neem, kon slegs 11 dié vereistes tot dusver nakom.

Kragtens die bepalings van die program sal munisipaliteite wat nie die programbepalings nakom nie, by die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) moet aansoek doen om die vrywillige opheffing van hul verspreidingslisiensies.
Program hou nie by eie reëls van die spel nie
Volgens Steffens sou die program kon vrugte afwerp indien dié wat nie die programbepalings nakom nie, wel gedwing is om aansoek om die vrywillige opheffing van hul verspreidingslisiensies te doen. Dergelike opheffing sou daarop neerkom dat die munisipaliteit sy verantwoordelikheid vir die verspreiding van krag opgee, waarna Nersa ’n alternatiewe verspreider sou moes kry wat dié verantwoordelikhede kon oorneem en handhaaf.
“Enige munisipaliteit wat sy sout werd is, sou behoorlik spartel om die skuldverligtingprogram se voorwaardes na te kom. Dit is eenvoudig – betaal net die huidige rekening en al die historiese skuld word afgeskryf. Die feit dat 69 munisipaliteite nie dié bepaling kon nakom nie, spreek boekdele en lê die ernstige wanadministrasie in munisipaliteite bloot,” verduidelik Steffens.
’n Gebrek aan institusionele kennis om sekere dienste te lewer, tesame met die afwesigheid van die politieke wil om dit te doen en sistemiese korrupsie staan volgens Steffens aan die kern van die probleem.
DAA: Die wonderkuur teen kragvoorsieningsprobleme?
Ondanks die program se voorwaardes – wat bepaal dat munisipaliteite wat nie aan die voorwaardes voldoen nie, moet aansoek doen vir die opheffing van hul verspreidingslisensies – dwing Tesourie en Eskom munisipaliteite nou eerder om verspreidingsagentskap-ooreenkomste (DAA) met Eskom aan te gaan. Kragtens dié ooreenkoms word Eskom die agent verantwoordelik vir kragverspreiding, skuldinvordering en instandhouding van die kragnetwerk in die betrokke munisipaliteit.
Dr. Kgosientsho Ramokgopo, minister van Elektrisiteit en Energie, is ’n sterk voorstander van Eskom se DAA’s en meen dat dit munisipaliteite sal versterk. Luidens ’n 2025-mediaverklaring van Eskom is die DAA-inisiatief daarop gemik om “munisipaliteite te help om dienslewering te verbeter deur Eskom se kundigheid in ingenieurswese, invordering en finansiële bestuur te benut”, en ook elektrisiteitsverliese te beperk, munisipaliteite se skuldlas te verminder en die gehalte van diens te verbeter.

Hoewel dié bedoelings idillies klink, hou Steffens hou egter vol dat Eskom se DAA-plan nie die werklike redes agter voortslepende kragprobleme in munisipaliteite gaan oplos nie.
“Om deur ’n DAA die verantwoordelikheid vir kraglewering van een sukkelende entiteit oor te dra aan ’n volgende, stuur af op ’n ramp. Eskom word geken aan sy swak bestuur, korrupsie, tenderbedrog, twyfelagtige ooreenkomste met Nersa en buitensporige groot bonusse, terwyl die kragnetwerk wankel onder druk en miljarde oorbestee is aan die konstruksie van die Medupi- en Kusile-kragstasies. Eskom se prestasie van die verlede bied nie enige hoop op ’n beter uitkoms as wat munisipaliteite tans self haal nie.”
Die wet stel reeds die riglyne – volg dit net!
AfriForum benadruk dat wetgewing reeds duidelike riglyne stel vir die hantering gevalle waar munisipaliteite nie meer ’n munisipale diens kan lewer nie.
Artikel 78 van die Munisipale Stelselswet sit die stappe wat gevolg moet word uiteen en bepaal dat dié diens dan óf deur ’n interne meganisme (dus die munisipaliteit self) óf ’n eksterne meganisme (’n eksterne diensverskaffer) gelewer moet word.
Indien dit blyk dat ’n munisipaliteit nie meer self die kragverspreiding doeltreffend kan hanteer nie, moet ’n artikel 78-proses begin word om ’n kontrakteur aan te stel om dit namens die munisipaliteit te doen. Ideaal gesproke moet ’n munisipaliteit dié proses self hanteer, maar nasionale departemente kan ook ingryp en die munisipaliteit begelei deur die proses.
Gegewe die bestaande wetgewing wat die proses dikteer, hou Steffens vol dat dié benadering gevolg moet word om munisipaliteite verantwoordbaar te hou. Indien Tesourie en Eskom die verantwoordelikheid van kragverspreiding by munisipaliteite wil oorneem, moet hulle dit volgens ’n artikel 78-proses doen. Daarvolgens moet die publiek ingelig word van die plan om dienslewering deur ’n ander party te laat doen en ’n behoorlike haalbaarheidsondersoek moet onderneem word.
“Indien dié proses gevolg word en dit blyk dat Eskom wel die geskikte entiteit vir die lewering van die diens is, sal dit billik wees. Dit is egter nie wat nou gebeur nie,” verduidelik Steffens.
Die huidige proses is bloot daarop gemik om Eskom se monopolie – en derhalwe ook sy swak prestasie ten opsigte van dienslewering – verder uit te brei. “Suid-Afrikaners kan nie gyselaar gehou word deur munisipaliteite wat swak of geen dienste lewer nie. Die eindelose grasie wat hulle toegestaan word, los nie die probleme op nie. As daar ’n alternatiewe oplossing bestaan, moet dit – sonder politieke inmenging – oorweeg word,” sluit Steffens af.
Lees die volledige ope brief hier.



