AfriForum doen beroep op regering om kriminaliteit in nommerplaatbedryf vas te vat
AfriForum doen ’n beroep op relevante regeringsdepartemente om die grootskaalse kriminaliteit wat in die nommerplaatbedryf blootgelê is, vas te vat. Dit volg ná verskeie onlangse mediaberigte oor nommerplaathandelaars wat nommerplate uitreik sonder dat enige voertuigregistrasie getoon word, en die groot aantal vervalste en gekloonde nommerplate wat deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en privaat sekuriteit waargeneem word.
Dié onthullings kom boonop te midde van die Mededingingstribunaal se vervolging van drie nommerplaatvervaardigers. Die vervaardigers het volgens die Mededingingskommissie ’n “kartel” gevorm.
AfriForum voer aan dat die gebrekkige wetstoepassing in die nommerplaatbedryf misdadigers in staat stel om talle oortredings te pleeg én daarmee weg te kom. Die organisasie hou daarom vol dat die nasionale en provinsiale vervoerdepartemente, die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging, sowel as die Suid-Afrikaanse Buro van Standaarde (SABS), se wetstoepassing dringend verskerp moet word om hierdie misdrywe die hoof te bied.
AfriForum dring onder meer aan op die volgende stappe:
- Die Mededingingstribunaal se vervolging van die drie nommerplaatvervaardigers moet so gou moontlik afgehandel word en skuldige partye moet gepaste gevolge dra.
- Die SABS en provinsiale departemente van Vervoer moet dringend nommerplaathandelaars se uitstaande registrasie-aansoeke afhandel. Registrasie-hernuwings moet ook meer doeltreffend geskied.
- Nommerplaathandelaars wat versuim om te registreer, moet gesluit word, en vervaardigers wat blanko-plate aan ongeregistreerde handelaars voorsien, moet vervolg word.
- Onwettige nommerplaatvervaardigers moet vervolg word en toerusting moet gekonfiskeer word waar nodig.
- Indien wetstoepassing suksesvol geskied, moet nuwe tegnologie bekend gestel word om verdere vervalsing van nommerplate te verhinder.
Die Gautengse Departement van Paaie en Vervoer het onlangs bekend gemaak dat die provinsie se projek om nuwe nommerplate bekend te stel, op ys geplaas is. Dit volg nadat AfriForum daarop aangedring het dat die proses eers, hangende die vervolging van geïdentifiseerde nommerplaatvervaardigers, gestaak word.
Volgens Louis Boshoff, AfriForum-woordvoerder, is daar uiteindelik, met die tydelike opskorting van die implementering van ’n nuwe nommerplaatstelsel in die provinsie, die regte besluit geneem. Hy hou vol dat dit dien as bewys dat openbare druk vrugte kan afwerp. “AfriForum, ander burgerlike groepe en verskeie wetsgehoorsame rolspelers in die nommerplaatbedryf het al maande lank gewaarsku dat onwettige aktiwiteit hoogty vier in die nommerplaatbedryf,” verduidelik Boshoff. “Dit is tyd dat die relevante ministers en regeringsdepartemente begin ag slaan op dié waarskuwings.”
AfriForum bly in gesprek met regeringsdepartemente en rolspelers in die bedryf.



