|

AfriForum dien minagtingsklag in teen Malema, EFF oor volgehoue aanhitsing tot grondbesetting

Klankgreep: Kallie Kriel
Klankgreep: Kallie Kriel

AfriForum het ’n aansoek om minagting van die hof teen die EFF en die party se leier, Julius Malema, by die Hooggeregshof in Pretoria ingedien. Die aansoek is intussen Vrydag deur die hof uitgereik. Die aansoek kom in reaksie op die EFF en Malema se hernieude oproepe tot onwettige grondbesetting, ondanks ’n hofbevel wat AfriForum in 2017 bekom het wat hulle verbied om enige dergelike oproepe te maak.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum

In die jongste voorval het Malema, tydens ’n openbare EFF-lesing wat op 23 Julie vanjaar by die Universiteit van Limpopo, in Polokwane, gehou is, onder meer verwys na jong mense wat eendag ’n plaas in Stellenbosch sal betree en beset.

In nog ’n voorval het die EFF op 6 April 2025, in ’n plasing op die party se amptelike X-rekening, ’n oproep op mense gedoen om grond te beset. Luidens dié plasing moet “mense die grond gaan opeis” en plekke beset om te boer en huise te bou. (Die oorspronklike plasing lui: “After today, right at this moment, our people must go get the land. Occupy everywhere where they need to farm and build houses!”)

Die burgerregteorganisasie vra in sy jongste hofaansoek dat Malema en die EFF skuldig bevind word aan minagting van die hof, en dat die EFF ’n boete van R500 000 en Malema gevangenisstraf van 18 maande, of ’n ander gepaste sanksie, opgelê moet word.

AfriForum se aansoek om minagting van die hof volg op ’n hofbevel wat op 7 Maart 2017 in AfriForum se guns uitgereik is en op die EFF en Malema beteken is. Dié bevel verbied die EFF en Malema om enige persoon aan te hits, aan te moedig, te beveel of te werf om grond, sonder die nodige toestemming van die eienaar of wettige bewoner, te betree.

Sedertdien het die EFF en Malema verskeie onsuksesvolle pogings aangewend om die bevel tersyde te laat stel. Kostebevele in AfriForum se guns is in die uitsprake gegee. Die party en sy leier het hulle uiteindelik tot die Konstitusionele Hof en die Hoogste Hof van Appèl gewend. Die aansoek by die Konstitusionele Hof is in Maart 2023 van die hand gewys, waarna die aansoek by die Hoogste Hof van Appèl in Junie daardie jaar ook misluk het. ’n Tweede poging om by die Konstitusionele Hof die bevel tersyde te laat stel, is ook in September 2023 van die hand gewys.

Die EFF het hierna in ’n amptelike mediaverklaring erken dat dié aangeleentheid finaal deur die howe beslis is.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is ’n hofbevel nie ’n aanbeveling wat selektief gehoorsaam kan word nie. “Die EFF en Malema weet presies wat die hofbevel bepaal en het jare lank onsuksesvol probeer om daarvan ontslae te raak. Hulle ignoreer nou willens en wetens die bevel en AfriForum sal toesien dat hulle nou die gevolge moet dra van hul optrede,” verduidelik Kriel.  

“Dié saak gaan oor die oppergesag van die reg. AfriForum het juis hierdie saak deur die howe gevoer omdat ons glo dat die oppergesag van die reg vir almal geld. Dit kan nie wees dat gewone landsburgers aan hofbevele gebonde is, terwyl sommige politieke partye en politieke leiers hulself as verhewe bo die reg beskou en hofbevele openlik kan verontagsaam sonder gevolge nie. AfriForum sal aanhou veg vir gelykheid voor die reg deur onder meer met regsaksie te sorg dat diegene wat straffeloos die wet oortree, tot verantwoording geroep word,” sluit Kriel af.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Veiligheid