|

Tree toe tot stryd vir grond, hart en siel van kultuurgemeenskappe – AfriForum

AfriForum doen ’n beroep op tradisionele, Khoi-San en ander kultuur- en geloofsgemeenskappe om dringend toe te tree tot die stryd om kultuur- en groepsregte in beskerming te neem en die volle verwesenliking daarvan te verseker. Dit volg nadat AfriForum vandag uitgebreide kommentaar op die Wetsontwerp oor Tradisionele en Khoi-San Leierskap ingedien het.

AfriForum se kommentaar lê onder andere klem op die aantasting van die grondregte van tradisionele gemeenskappe; die oormatige en onbehoorlike magte wat aan staatsamptenare toegeken word; ’n gebrek aan begrip vir lewende gewoontereg en die aantasting daarvan; die vooropstelling van die staat se prioriteite terwyl gemeenskapsbelange en -prioriteite afgeskeep en ondermyn word; die gesentraliseerde en individualistiese ideologieë wat die wetgewing onderlê, wat strydig is met die wêreldbeskouing en waardes van tradisionele en Khoi-San gemeenskappe en dié van kultuurgemeenskappe oor die algemeen.

Volgens Barend Uys, hoof van Interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum, stel die wet in sy huidige vorm die premier van ’n provinsie in staat om die gesagsgebied van ’n tradisionele gemeenskap te wysig ongeag of die gemeenskap se tradisionele raad daarmee saamstem of nie.

“’n Tradisionele gemeenskap kan tans ingevolge artikel 20 van die Wet op die Opgradering van Grondbesit 112 van 1991 die aangewese minister versoek om grond waaroor hulle gesag uitoefen, aan die gemeenskap in titel oor te dra. Die meeste tradisionele gemeenskappe se grond word steeds deur die staat as voog namens die gemeenskappe besit. Die waarheid is dat die staat geen daadwerklike poging aanwend om dié bestaande wetgewing te gebruik om gemeenskappe se grond aan hulle oor te dra nie. Dié betrokke klousule tas dus direk die grondregte en aanspraak op grond van tradisionele gemeenskappe aan,” sê Uys.

“Die toedrag van sake dui op die regering se onedele benadering tot en bedoelinge met grondbesit in die land. Dit bevestig opnuut waarom gemeenskappe en burgers weerstand teen die Onteieningswet moet bied, soos wat AfriForum tans doen.”

AfriForum is van mening dat hierdie wetgewing aan die hart en siel lê van tradisionele en Khoi-San gemeenskappe, asook kultuurgemeenskappe oor die algemeen en hul voortgesette, voorspoedige voortbestaan as kultuurgemeenskappe.

“Dit is kommerwekkend dat die wetsontwerp gemeenskappe se kultuur- en groepsregte, soos onder meer bevestig in die Afrika-handves op Mense- en Volkeregte en die Verenigde Nasies se Verklaring op die Regte van Inheemse Volke (UNDRIP), waarvan Suid-Afrika ondertekenaars is, ondermyn, verder mag sentraliseer en die geleentheid misloop om die wetgewende raamwerk daar te stel wat gemeenskappe in staat sal stel om kulturele selfbeskikking, soos vervat in artikel 235 van die Grondwet, makliker te verwesenlik en hul toekoms met selfvertroue in hul eie hande te neem,” sê Uys.

“Wetgewing wat gaan oor kultuurgemeenskappe en hul leierskap moet kultuurgemeenskappe en hul waardes, lewens- en wêreldbeskouing en prioriteite vooropstel. AfriForum doen daarom ’n dringende beroep op alle kultuurgemeenskappe om hulself te organiseer, te versterk en met mekaar saam te werk om ’n mooi toekoms vir al die gemeenskappe in die land te verseker.”

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners