AfriForum-buurtspan help brande blus, plase om Klerksdorp beveilig
AfriForum se Klerksdorp-buurtspan het in Julie gefokus om die dorp te beveilig deur onder meer brande te help blus en ’n plaaswag met ’n kommunikasienetwerk te versterk. Dié span het op verskeie gebiede ’n tasbare verskil gemaak en met praktiese optrede ’n positiewe bydrae tot die veiligheid van die dorp gemaak.
Een van grootste fokusareas vir die span was brandbestryding. Daar is gehelp om drie brande te bestry wat naby huise gewoed het, asook vier veldbrande op omliggende plase. In gevalle waar die brandweer nie betyds beskikbaar was nie, het hierdie AfriForum-span saam met ander patrolleerders ingespring om die vure met brandbestrydingstoerusting onder beheer te bring.
Ter ondersteuning van ’n plaaswag in die gebied het AfriForum se Klerksdorp-tak ’n radionetwerk gevestig om kommunikasie tussen lede te verbeter. Die span het boonop verskeie veiligheidsoperasies saam met die plaaswag uitgevoer as deel van die voortdurende stryd teen veediefstal.
Benewens die tak se ingrypings om die gebied te beveilig, het die buurtspan ook voortgegaan met instandhoudingswerk op die dorp. Verkeerseilande en altesaam 2,4 km se gras is in Buffeldoornweg en Centrallaan skoongemaak en gesny. Die plaaslike bergfietsroete is skoongemaak ter voorbereiding vir ’n bergfietskompetisie en advertensieborde met die baan se reëls en regulasies is opgerig.
“AfriForum se Klerksdorp-buurtspan is deur die gemeenskap vir die gemeenskap gestig. Hierdie span poog om uiteenlopende uitdagings die hoof te bied en hoe meer gemeenskapslede by die tak betrokke raak, hoe meer positiewe veranderinge kan plaasvind,” sê SW Scott, voorsitter van AfriForum se Klerksdorp-tak.
Kontak Scott by 082 806 7484 om by AfriForum se Klerksdorp-tak aan te sluit.



