AfriForum gryp in om bejaarde se waternood te verlig
Munisipale verval het dienslewering in verskeie dorpe en stede in Suid-Afrika gekniehalter en in sommige gevalle heeltemal tot stilstand gebring. In Welkom het die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit lankal watervoorsieningsprobleme met sommige woonbuurte wat beurtwater kry.
Die lewe is nie maklik vir inwoners nie en vir Freda Strauss (80) het vroeg opstaan ’n gewoonte geraak. Die krane in haar huis was sedert Desember 2025 omtrent altyd droog behalwe tussen 03:00 en 05:00 in die oggend. Sy het elke Donderdagoggend 26 bottels vol getap om aan haar behoeftes te voldoen. Die gebruik van ’n wasmasjien was beslis nie moontlik nie, maar danksy AfriForum se watersvoorsieningstelsel is daar nou weer permanent water in haar huis se krane.
“Die eerste keer toe warm water uit die krane kom, het ’n ongelooflike dankbaarheid oor my gekom. Die Here het my gebede verhoor,” vertel Strauss nadat AfriForum Dienste ’n watertenk en drukpomp by haar huis geïnstalleer het.
Teen 2023 het die munisipaliteit ongeveer 56% van sy water verloor.
Matjhabeng se diensleweringsprobleme kom al vir die afgelope 15 jaar, maar het oor die jare net erger en erger geword. ’n Groot waterlek naby die Mimosadam wat in Desember 2019 aangemeld is, het vir meer as ’n duisend dae geduur voordat dit herstel is. Teen 2023 het die munisipaliteit ongeveer 56% van sy water verloor en teen Maart verlede jaar nagenoeg 60% van grootmaatwater. Dis ’n jaarlikse verlies van meer as R480 miljoen.
Volgens Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland, maak Matjhabeng aanhoudend beloftes oor hoe hulle dienslewering gaan verbeter, maar daar kom niks van nie.
“Die munisipaliteit het herhaaldelik onderneem om die probleem aan te pak, maar dit was net leë beloftes. Alhoewel R4,2 miljard oor vyf jaar bewillig is vir die sanitasieprogram bied die projek nie opsigself ’n oplossing vir die waterprobleme nie,” sê Ikking.
Matjhabeng is al in die hof vasgevat toe die Vrystaatse Hooggeregshof op 23 Oktober 2024 gevind het dat dié munisipaliteit ernstig en aanhoudend versuim het om hul grondwetlike pligte na te kom, waaronder die lewering van volhoubare basiese dienste en die bevordering van ’n veilige en gesonde omgewing. Matjhabeng het teen die uitspraak geappelleer en die uitvoering van die ingryping is hangende die appèl opgeskort.
Daar is boonop verlede jaar by ten minste een wateraanleg E. Coli in die water gevind.
Daar is boonop verlede jaar by ten minste een wateraanleg E. Coli in die water gevind en vanjaar het verskeie kinders siek geword ná hulle vermoedelik besoedelde water gedrink het. AfriForum Dienste bied egter sedert 26 Julie vanjaar ’n praktiese oplossing soos vullisverwydering, herwinning en watersvoorsieningstelsels – wat watertenks en drukpompe insluit – vir die inwoners van Welkom en omliggende dele aan.
“Elke aansluiting verteenwoordig ’n huishouding wat nie meer heeltemal weerloos teen ’n droë kraan staan nie. Mev. Strauss se verhaal wys dat diensleweringsverval nie net in miljoene rande en persentasies gemeet word nie, maar in die waardigheid wat inwoners verloor wanneer hulle nie kan bad, wasgoed was, kos voorberei of ’n toilet spoel nie. Skoon en betroubare water is nie ’n voorreg nie, maar ’n grondwetlike reg”, voeg Ikking by.
“Baie dankie AfriForum, mag julle van krag tot krag gaan en nog mense se lewens verryk met jul projek,” sluit Strauss af.
Volg hierdie skakel om meer oor AfriForum Dienste uit te vind.



