AfriForum bevind vullisterreine in Ngwathe-munisipaliteit totaal ontoereikend
Dit blyk ná AfriForum se onlangse besoek aan die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se vullisterreine, meer spesifiek op Heilbron en Parys, dat dié munisipaliteit weinig gedoen het sedert verlede jaar om die burgerregteorganisasie se voorstelle in sy jaarlikse vullisterreinoudit te implementeer. Gegewe die haglike stand van sake is dit volgens AfriForum nog meer belangrik dat die munisipaliteit onder administrasie geplaas word.
AfriForum oudit jaarliks vullisterreine landwyd om die huidige toestand van munisipale en private vullisterreine in Suid-Afrika te bepaal. Die toestande op die Ngwathe-munisipaliteit se vullisterreine is vanjaar weer ooglopend swak. Benewens dat beide dié terreine nie eens oor wettige lisensies beskik of behoorlik omhein is nie, besoedel die afval klaarblyklik die nabygeleë waterbronne en loop daar boonop diere rond en vreet die onwelriekende vullis op.
“Dit is onrusbarend dat dié vullisterreine vir die afgelope ses jaar só swak bestuur word. Dit blyk asof die toestande op die munisipale vullisterreine, asook by die munisipaliteit se waterwerke en substasies, heeltemal hand uitgeruk het. Die munisipaliteit is skynbaar ongewillig om dié probleme die hoof te bied. Munisipale verval is aan die orde van die dag en die plaaslike vullisterreine is net een van die voorbeelde daarvan,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.




AfriForum wag steeds op uitspraak in ’n hofaansoek oor die gebrekkige dienslewering in die munisipaliteit. Die burgerregteorganisasie het in Desember verlede jaar ’n dringende aansoek by die Bloemfonteinse Hooggeregshof ingedien waarin intervensie ingevolge artikel 139 van die Grondwet versoek is. Hiervolgens kan ’n provinsiale uitvoerende gesag intree en die munisipaliteit onder administrasie plaas as dit nie sy pligte nakom nie. AfriForum versoek onder meer oorsig van die waterwerke sodat die bevoegdheid van werkers op die aanleg gemonitor kan word.
Terwyl daar op dié uitspraak gewag word, het die burgerregteorganisasie intussen ’n skrywe aan die munisipaliteit gerig oor die haglike toestand van die twee vullisterreine. AfriForum versoek daarin dat die munisipaliteit so gou moontlik stappe doen om die toestande te verbeter. Indien sommige van die ernstige gesondheids-, veiligheids- en omgewingskwessies nie teen einde Mei opgeklaar word nie, behou AfriForum die reg om in te tree om die situasie te beredder en alle uitgawes wat daarmee verband hou, by die munisipaliteit terug te eis.
AfriForum se volle vullisterreinouditverslag word later vanjaar bekendgemaak. Daarin word die volle omvang van die huidige toestand van munisipale en private vullisterreine in Suid-Afrika uiteengesit.