AfriForum vat Matlosana-munisipaliteit vas oor onwettige storting, stel sperdatum vir opruiming
’n Beroep op die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit om die onwettige storting van vullis langs die Orkney-pad op te ruim, is steeds onbeantwoord en storting duur steeds onverpoosd voort. AfriForum se Klerksdorp-tak eis daarom nou dringende optrede van dié munisipaliteit en dring aan dat die terrein teen Maandag 7 September opgeruim word of dat ’n skriftelike aksieplan vir opruiming teen dan voorgelê word.

Die organisasie eis voorts dat die munisipaliteit die terrein formeel inspekteer en die omvang van die storting dokumenteer; dat afval en karkasse dringend en volgens die toepaslike wetgewing verwyder word; en dat voorkomingsmaatreëls (waaronder waarskuwingstekens, monitering en behoorlike wetstoepassing) ingestel word om verdere storting hier te voorkom. AfriForum dring ook daarop aan dat oortreders van onwettige storting geïdentifiseer en optrede teen diegene ingestel moet word.
Dié oproep volg nadat AfriForum die munisipaliteit reeds in April skriftelik in kennis gestel het van die onwettige storting van huishoudelike afval, bourommel en selfs dierekarkasse op ’n terrein by die Ysterspruit-aansluiting buite Orkney. Die munisipaliteit het egter tot dusver nóg op die skrywe gereageer nóg die terrein opgeruim. Die versuim om die terrein op te ruim kom boonop ook ondanks die munisipaliteit se plan vir die samestelling van ’n toegewyde taakspan om onwettige stortings te teiken. Luidens dié plan, soos uiteengesit in die munisipaliteit se finansiële herstelplan wat reeds in Augustus verlede jaar opgestel is, sou bestaande personeel vir dié skoonmaakspanne aangewend word.
Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier, benadruk dat die vullis en ontbindende dierekarkasse ’n wesenlike gevaar vir die omgewing en gemeenskap inhou. “Die afval kan onder meer die spruit en moontlike grondwaterbronne besoedel, siektes versprei, ongediertes lok en omliggende landbougrond en natuurlike ekosisteme benadeel,” verduidelik sy.
“Dit is onaanvaarbaar dat die munisipaliteit, ondanks die ernstige aard van die probleem en AfriForum se skriftelike kennisgewing, steeds geen sigbare stappe gedoen het om die terrein op te ruim nie. Hierdie gemors is nie net ’n onooglike verleentheid nie – dit hou ’n direkte bedreiging vir mens, dier en die omgewing in,” hou sy vol.
SW Scott, voorsitter van AfriForum se Klerksdorp-tak, meen die munisipaliteit het ’n kritieke verantwoordelikheid wat nagekom moet word. “Die Matlosana-munisipaliteit kan nie bloot sy verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap en die omgewing ignoreer nie. Indien die munisipaliteit weer versuim om teen die sperdatum op te tree, sal AfriForum verdere stappe oorweeg om verantwoording te verseker,” sluit hy af.
Sluit vandag nog aan by AfriForum se Klerksdorp-tak. Kontak SW Scott (082 806 7484) vir meer inligting.



