AfriForum berei dringende minagtingaansoek voor ná Tshwane-metro weer skole se krag afsny
AfriForum het pas bewus geraak daarvan dat skole in Centurion se kragtoevoer weer afgesny word in weerwil van die hofbevel wat vroeër vanjaar deur dié organisasie en sommige van die geraakte skole daarteen verkry is. ’n Dringende minagtingaansoek word nou deur AfriForum teen die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit voorberei.
Die metro het destyds skole se krag weens die wanbetaling van hul eiendomsbelasting begin afsny, hoewel die skole glad nie vir die betaling van belasting verantwoordelik is nie. Dit is die verantwoordelikheid van die Gautengse Provinsiale Onderwysdepartement. Die skole kon ook bewys dat hulle diensterekeninge op datum was ten tyde van die afsny van hulle krag.
Die hof het in die uitspraak beveel dat alle skole se kragtoevoer dadelik herstel moes word, geen verdere aksies van dié aard moes plaasvind nie en skole vergoed moes word vir enige verliese wat gely is. Nogtans is skole se krag kort daarna weer afgesny en net herstel nadat die metro onder druk geplaas is. Dat die situasie nou vir ’n derde keer opduik, en dit só na aan die jaar se finale eksamens, is onverskoonbaar.
AfriForum doen ’n beroep op enige skool wat hierdeur geraak word, om dringend met die organisasie kontak te maak by onderwys@afriforum.co.za.



