AfriForum belowe om privaat eiendomsreg te beskerm terwyl Mbalula onderneem om grond sonder vergoeding te onteien
Met dié dat die ANC-sekretaris-generaal Fikile Mbalula die afgelope naweek die party se belofte om grond sonder vergoeding te onteien herhaal het, het die burgerregteorganisasie AfriForum 2026 as ’n waterskeidingsjaar geïdentifiseer in die stryd om die grondwetlike reg op privaat eiendomsreg te beskerm. Tydens ’n saamtrek in Mogwase in Rustenburg, as deel van die ANC se 114de bestaansjaarvieringe, het Mbalula verder gesê dat die ANC boonop van voorneme is om meer ekstreme beleide soos die nasionalisering van die Reserwebank deur te voer.
AfriForum sal in Maart 2026 saam met ander belanghebbendes in die Wes-Kaapse Hooggeregshof verskyn om die grondwetlikheid van die Onteieningswet te betwis. Dit beloof om ’n monumentale saak te wees wat die toekoms van Suid-Afrika sal bepaal. AfriForum sal voortgaan met sy feitegebaseerde veldtogte, beide plaaslik en in die buiteland; om nuwe navorsingsprojekte te lewer om die regering se leuens oor grondeienaarskap bloot te lê; asook te demonstreer waarom die grondwetlike reg op privaat eiendom noodsaaklik is.
Volgens Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum, het die ANC al vir jare lank sy begeerte en missie duidelik gemaak om private grond sonder vergoeding te onteien. Dit is hierdie legitieme bedreiging wat AfriForum op tuisbodem en in die buiteland dokumenteer en sal voortgaan om bloot te lê.
“Mbalula se klem op die ANC se planne om eiendom te konfiskeer en die Reserwebank te nasionaliseer, is net verdere bewys van hul brandende begeerte na totale mag en beheer, ongeag hoeveel regte hulle skend en hoeveel lewens hulle verwoes om dit te bekom,” sê Van Zyl.
Lede van die publiek kan saam met AfriForum teen onteiening sonder vergoeding staan deur www.onteiening.co.za te besoek.



